Dit is eers noudat ek na 15 jaar kan terug kyk wat ek besef dat die Burgemeester van Johannesburg se melkbekertjie  wat ek gesteel het nogal ‘n groot rol in my lewe gespeel het.  So ‘n fyn, wit porselein enetjie.

Die jare toe my man nog ‘n belangrike man in Johannesburg was, het ons elke hogene geleentheid bygewoon. My kas se een helfte het vol gehang van little, en party nié so little black numbers. Netjiese pakkies het die ander helfte gevul.

Party naweke het ons tot drie verskillende geleenthede moes bywoon, party op kort kennisgewing. Soms was daar ook dinge in die middel van die week aan.

My werksplek by die RGN was gevul met ‘n klomp boheemse sielkundiges, en ons kon heerlik ontspanne ons kreatiwiteit uitleef.

Die geneuk het natuurlik gekom as my man ‘n noodoproep maak: “Ons moet saam met die Geneesheer-Generaal en sy vrou Baraghwana toe.” Let op die ons.

“Is reg so,” het ek gesê. “Wanneer?” Ek was mos gewoond hieraan, en het klere gehad vir elke geleentheid.

“Nou.” Ek het afgekyk na my visnetkouse by my Doc Maartens, en in my gedagtes die formidabele vrou van die Geneesheer-Generaal gesien, elke haar op sy plek, elke serpie presies reg gevou.

“Kan ek gou huis toe gaan en gaan aantrek?” het ek gevra. “ Ek sal vinnig wees.”

“Nee, hulle is reeds in die gebou, ons moet oor tien minute ry.” Ek kon die frustrasie in sy stem hoor. Wat is ‘n senior offisier nou sonder ‘n ondersteunende vrou aan sy sy, wat hy liggies aan haar elmboog stuur? Welgekleed en deftig.

Wat kon ek doen? Ek het doodeenvoudig my man se stywe kakebeen geïgnoreer en die toer deur die hospitaal voltooi. Netjies en statig het die prosessie die gange afgestap, kamtig onbewus van die verveelde fotograaf se flits. Maar tog is die skouers meer vierkantig getrek, en die kenne op, gedagtig aan die aand se insetsel op die televisie-nus.

Kort-kort het ons stilgestaan by ‘n pasiënt se bed, maar by die een traliebedjie het ‘n stuk van my hart agtergebly, pleks van my veelkleurige serp.

Die klein seuntjie in die kankersaal, het saggies oor die serp gevryf wat in sy bedjie gehang het soos wat ek oor hom gebuk het. My man het ongeduldig beduie dat ek hulle ophou.

Waarom dink ‘n mens eers agterna daaraan dat dit net twee sekondes sou neem om die serp af te haal en in sy bedjie te los? Dat die tekstuur en kleur iets was wat hy waarskynlik nie in sy lewetjie geken het nie, was baie duidelik.

Helder blokke kleur met goud deurdraad, dra ek steeds soos ‘n aanklag om my nek, en ek hoop dat ek daardeur leer om my hart te volg, al moet ‘n Baie Belangrike Persoon nou ook twee sekondes vir my wag.

Nietemin, ek wou eintlik vertel van die melkbekertjie.

Advertisements