Die berggans het ’n veer laat val… “Ja, ja,” hoor ek die mense sê, “klink my jy was by Wupperthal…”

Ons was inderdaad onlangs by Wupperthal. Vir so lank al hoor ons van Wupperthal, die Morawiese sendingstasie daar anderkant Clanwilliam. Vandat ons die eerste keer gelees het van Wupperthal se skoene, wou John met alle geweld ʼn paar Wupperthaller vellies hê, kompleet met rooi veters, wat daar in hulle eie skoenfabriek gemaak word.

Hierdie seisoen was die blomme in daardie geweste so mooi en het ons sommer bietjie blommekyk gekombineer met ‘n reis na Wupperthal. Gedagtig aan al die spookstories wat ons gehoor het oor die pad daarheen, het ons eers by Clanwilliam se Toerisme Buro na die toestand van die pad gaan verneem. Hulle het ‘n paar oproepe gemaak en ons gerus gestel dat ons met ons Corsa Lite die pad kon aandurf. Of ons net gelukkig was weet ek nie, maar die pad was heeltemal rybaar, glad nie sleg vir ‘n grondpad nie. Ons het eers gestop tussen die klipstapels in die Cederberg by Leipoldt se graf. Die dokter, skrywer, koskenner en botanikus, C. Louis Leipoldt (1880 – 1947) lê in ’n holkrans langs die pad begrawe. Dit is ’n omgewing waar hy en sy predikant-pa diep spore getrap het.

Die 75 kilometer na Wupperthal het te kort gevoel. Ek sou selfs stadiger wou ry, want die natuurskoon is asemrowend deur die bergpasse. Die dorpie lê skilderagtig in ‘n laagte.

Ons het heel eerste die skoenfabriek gaan soek, en ons kon sien hoe die vyf skoenmakers skoene maak. John het dadelik sy vellies van die rak af gehaal, ‘n perfekte passing, met rooi veters en al. Vir myself was daar niks wat net presies reg was nie, die een was te nou, die ander te bruin, en nog een te groot. Die voorman Arnold was baie geduldig en het gesê: “Dis nou eers twintig voor vyf, as mevrou nou hierdie een in rooi wil hê, in ‘n ses, bietjie breër oor die voet, maak ons gou vir mevrou die sêndeltjies.” Toe ek weer sien, toe word daar al gestik en geplak aan daardie paar sêndeltjies.

Ons het oorgeslaap in ‘n gastehuisie tussen die mense teen ‘n uiters billike prys. Heel eerste die volgende oggend is ons skoenfabriek toe en daar was my sandale, kant en klaar. Dis nou voorwaar handgemaakte skoene met ‘n verskil!

Ons het ontbyt gehad in die teekamer, en die museum besoek. Oral is foto’s van C Louis Leipoldt. Daarna het ons die heerlikste seep gaan koop wat hulle daar maak.

“Julle lewe in ’n ander wêreld as ons. Hierso is alles nog soos dit was. Dis soos outyd en niks loop aan nie,” sê Johannes vir Samantha in Kowie Rossouw se boek Grootword is nie vir sissies nie, wat in Wupperthal afspeel. Inderdaad het ons die voorreg gehad om vir ‘n dag in hierdie ander wêreld te leef.

Vir meer inligting oor Wupperthal, of om plek te bespreek in ‘n gastehuisie daar, skakel vir Nolene by die Toeriste kantoor by (027) 4923410.

Die berggans het ’n veer laat val
van die hoogste krans by Woeperdal
my hart staan tuit al meer en meer
ek stuur vir jou die berggansveer
mits dese wil ek vir jou sê
hoe diep my liefde vir jou lê

Boerneef

Advertisements