Partymaal kan ek mos so nobody-loves-me voel.

En dis pure bleddie ondankbaarheid, my lewe is 99% perfek, ek het genoeg van als, baie tyd, wonderlike man, goeie gesondheid, bly lekker by die see, ek is happy & content, my kinders is almal gesettle. Liefste ou kleinkindjie ook nog.

Op sulke dae dink ek weer aan die dag wat ek vir die werk van Pretoria af Kaap toe moes kom. Ek was jonk, pas gekwalifiseer, vol ywer vir hierdie professionele beroep. Onthou net, die lewe was nie halfpad soos nou nie. Dit was vol eerstes vir my.

My eerste vlug
My eerste regtig professionele werk wat ek alleen moes gaan doen
My eerste besoek aan die Kaap
My eerste keer wat ek ‘n kar moes huur
My eerste slaap in ‘n hotel
My eerste bestuur in ‘n vreemde stad

Nou die betrokke vlug het ongeveer agt uur die aand in die winter op die destydse DF Malan geland. In die reën. Alles het glad geloop, die vlug, die kar se huur, die kaart volg tot by die hotel in Seepunt. Ek meen, ek is mos die sterk een, en ek kan cope. En ek het.

En toe, by die hotel se ingang, staan hierdie geplooide ou kleurlingman en laat mense in en uit by die parkering. Hy loer so in die kar in en sê, Ag sháme, jhou arme ou dingetjie… So allien en dit in die rien in die swarte nag… Net daar begin ek natuurlik toe tjank…

So partykeer wil ek ook maar net weer hoor – Ag sháme, jhou arme ou dingetjie…

Advertisements