Partymaal kan ʼn mens waardevolle lesse by kleintjies leer. Ons krullebol kleinkind, nog nie twee jaar oud nie, is ʼn baie goeie leermeester. As jy daardie koppie met kurktrekkertjies sien, sal jy besef: Haartjies kam kan nogal ‘n taak wees.

Een goeie dag kyk sy in my handsak, en haal my haarborsel uit. Dadelik wil sy toe haartjies kam. Met groot moeite het ek toe haar poniesterte oorgedoen, en toe vat sy die borsel. “Nou ouma haa’kies kam”. Ouma hou toe gedwee haar kop dat die klein pop haar hare kan kam, en toe kom die bevel. “Nou oupa haa’kies kam”. Altyd gewillig, en soos dit ‘n goeie onderdaan betaam, hou oupa toe sy kop nader. Maar waar kry ons ‘n lewensles! Die klein japsnoet bekyk oupa se glimmende skedel van hoek tot kant, en vra ewe verbaas: “Nou waa’s oupa se haa’kies nou?” Absolute verbasing op die ou gesiggie.DSCN8560

Vir haar het dit nog nooit saak gemaak of oupa ʼn welige haredos het of nie. Sy het dit inderwaarheid nie eens opgemerk nie, maar vir hom het dit jare geneem om met ‘n voortydige bles vrede te maak. Vir haar was hy net haar geliefde oupa, hare of te nie.

Wanneer mens so iets beleef, dan dink ek hoe ons wroeg oor ons voorkoms, en oor dinge waaroor ons gespot word. Is die vreeslike premie wat ons plaas op ons voorkoms wérklik nodig?

Dieselfde meisiekindjie is vandat sy gebore is, gefassineer met my armbande wat ek nooit afhaal nie. Nege goues, party dunner, en party dikker. Sy was skaars gebore toe het sy dit vasgegryp. Almal het gelag en gesê dis ‘n refleks, maar ek weet dis ‘n band wat ons bind. Ek het haar belowe sy kry die armbande as sy 16 word.

Vandat sy kan praat, kyk sy my altyd met sulke pleitende ogies aan as sy oor daardie armbande streel en vra – “Net éne, ouma!”

DSCN8950Met die kinders se kuier hierdie naweek, het sy haar eie stel juwele gekry – sulke goedkoop plastiese krale, armbande, ringe en oorbelle. Die ou gesiggie was ekstaties toe sy daardie pakkie oopmaak. Haar eie armbande!  Sy het dadelik alles aangepas, maar ai, die armbande het daardie hartjie verbly. Kort-kort vryf sy so daaroor en sê, “Dis móói…” Dan kyk sy myne so en reken so ewe nadenkend, “Ouma allembandjies somme plein. My allembandjies móói… “

So leer ek van verskillende persepsies. En van waardering. Want wie waardeer nou haar armbande meer? Ek wat skaars bewus is van iets wat maar deel van my arm vorm, of sy as die hemel in haar ogies oopgaan as sy oor die goedkoop pers plastiek streel?

Miskien moet ons meer na die kleintjies kyk wanneer hulle speel, en ag gee op hulle manier van kyk na die lewe. Hulle is nog onaangeraak deur allerhande verwagtinge en hoe dinge behoort te lyk. Of hoe ons dink iets behoort te lyk.

Dankie, Kiarakie, jou ouma leer baie van jou.

Advertisements