Kantelson skryf hoe lekker sy eendag vir haar kleinkinders kan vertel dat sy deel was van die geskiedenis wat ons die afgelope 15 jaar maak en vir die volgende 15 jaar gaan maak.

Julle weet nie watter waar woorde sy spreek nie, maar lag nou vir my, Kantelson, begin nóú om goedjies bymekaar te maak daarvoor. Ek het onlangs van my ma se vertellings oor haar kinderlewe op LitNet geplaas, en dit klink soos iets van ‘n ander planeet af. Ek is so bly dat sy dit neergeskryf het.

Op my beurt het ek aan my ouma se lippe gehang as sy vertel het hoe die Engelse hulle huis afgebrand het in die Anglo-Boereoorlog, en hulle verblyf in die Irene konsentrasiekamp. My oupa weer het ons vermaak met sy stories oor sy tyd in die tronk na die 1914 Rebellie, en hoe hulle op die pad gewerk het teen ‘n ‘sieling ‘n dag’ (1 Sjieling = 12 Pennies = 10 Sent)

Net so is dit met elke geslag. As ek bv dink hoe ons Republiekwording in 1961 beleef het, en die gepaardgaande metrisering, met rekenliniale gewerk het, en die wonder van sakrekenaars beleef het, hoe ek gespaar het vir ‘n deposito vir my eerste TV (ek was al getroud met kinders toe TV uitgekom het) om maar net ‘n paar dinge te noem, gaan ek beslis vir my kleinkind soos iets uit ‘n ander planeet klink.

Lag maar, maar ek bêre koerantuitknipsels en dingetjies wat oor my/deur my geskryf is, resensies, pryse wat ek gewen het en so aan. Dit klink dalk stupid of selfbehep, maar ek sou wat wou gee as ek so iets van my oumas kon beleef.

Mense, ons IS ons geskiedenis, ons geskiedenis lê nie agter ons nie. Ons leef more se geskiedenis nou.

Advertisements