Daar is ‘n nuwe program op RSG op Woensdagaande, Kopskuif. (Dit is ‘n program oor ‘senior’ mense. Ek het na die eerste paar geluister, en ek is terselfdertyd opgewonde, maar ook bekommerd daaroor.

Self in my middeljare, het ek nou die dag vir my bejaarde ma gesê ek voel ‘n bietjie verneuk, want ek kry nou pyne en plekke wat ek nooit gehad het nie, en as ek die tydskrifte en ander media moet glo, sit alles in my kop en is ek so oud as wat ek voel ens. Middeljariges huppel sorgeloos (en pynloos) in advertensies oor die strand en het ‘n vol sekslewe.

Die werklikheid om my lyk effens anders. My vriende en familie ly aan cholesterol, diabetis, arthritis, het hormoonprobleme, gaan dood aan kanker en hartaanvalle, het blaasprobleme en impotensie, en laat ons gesondes wat nog relatief fiks is, benoud voel, want dit is ons tydgenote daardie.

My bekommernis is dat hierdie program ons nog erger oor onsself gaan laat voel as wat ons reeds doen. Want as jy luister na hierdie uitskieter bejaardes wat op die eerste paar programme was, voel ek dan moet daar mos fout met my wees as ek pynlik opstaan, styfheid in die vingers het en ‘n lekblaas daarby.

Party dae voel ek om die radio en TV af te skakel, koerante neer te sit en volstruis te speel, maar nou verneem ek volstruise steek inderdaad nie hulle koppe in die sand nie.

Advertisements