Foto is in my Graad 1 jaar geneem

Foto is in my Graad 1 jaar geneem

Ons het vreeslik beskermd grootgeword, Christelik-Nasionaal-Calvinistiese plaaslewe in die 1950’s was mos maar so. Van die lewe het ons maar min geweet, kinders is immers gesien en nie gehoor nie. Dinge soos bv egskeiding is omtrent nie by die naam genoem nie, en wat ons van ‘grootmenssake’ geweet het, het ons afgeluister.

Nietemin, toe ek op 5 skool toe is, wou ek die eerste dag opsluit met die rammelrige ou rondeneus skoolbus gaan wat ons in die grootpad oplaai, want ek hét al bus gery en het geweet hoe. (Die vorige jaar kon elke skoolkind die dag wat die skool sluit, ‘n klein boetie of sussie saamneem, en so het ek wêreldwys geword oor busry.) My ma het instruksies gekry om nie te tjank as sy my inskryf nie, en ek is met die bus weg. In die klas was ek oorgehaal, waar is die boeke? Ek was bitter ontsteld toe net klei uitgedeel is. Die eerste pouse het ‘n groot meisie, Carolina kom vra haar nefie Carel vra die kys. Ek het absoluut géén idee gehad waarvan sy praat nie en was bloot stomgeslaan. Watter kys? Sy sê toe, Makie sakie, sê net ja…

Toe Coenie later kom vra, ek vra die kys, het ek met groot selfvertroue gesê, Ja. Ek het mos nou geweet wat om te doen.

My ma lag nou nog oor Coenie en Carel mekaar bloedneus geslaan het tweede pouse, om uit te sorteer wie nou eintlik met wie gekys is.

Advertisements