Sleutelwoorde

, , ,

Hoe ver onthou jy terug? In my geval is dit baie ver terug. My eerste herinneringe, of seker eerder gewaarwordinge, was  ek seker so 9 maande oud, ek onthou hoe ek so hande-viervoet gekruip het omdat die grond my kniegies seergemaak het, en ek modder geëet het in ‘n slootjie langs die huis. Ek onthou ook dat ek regop gesit en huil het en dat my ma my kom optel het. Is dit vreemd dat ek onthou dat ek bang was toe sy my opgeswaai het op haar heup?

1958 – Op ouderdom twee  ek my nefie Wicus se dood voorspel. ‘Voorbodes’ en ‘met die helm gebore’ was terme wat ek van kleins af geken het, soos wat ons die grootmense afgeluister het, maar niemand het ooit vir my gesê dat ek self ‘met die helm gebore’ is nie.

Klaarblyklik het ek so ʼn week voor sy dood vir my ma gesê dat hulle Wicus in ʼn wit kassie gaan sit. Hulle het eers weer daaraan gedink toe die outjie die volgende week binne ʼn dag siek geword, totaal ontwater en gesterf het. Hy is toe inderdaad in ʼn wit kissie begrawe. Ek was twee jaar en drie maande oud.

Wicus se inskrywing in die genealogie register

 

My eerste ervaring van ʼn Engel was so werklik dat ek nie eers enige onraad vermoed het nie.

My mangels is op 5-jarige ouderdom uitgehaal, en my blindederm ʼn jaar of drie later. Brits Hospitaal se kamers het op die straat uitgekyk waar al die kinders verby ry op hulle fietse op pad skool toe. Beide kere was vir my die wonderlikste gesig om daar te lê en te kyk na die laggende kinders wat met sterk bene hulle fietse trap, die meisies se bene blink in die son. Ek was nog klein, maar ek het ʼn fiets met my hele hart begeer, en kon nie glo dat die kinders wat in die dorp woon sommer net so op hulle fietse ry, asof dit maar net niks is nie! Na 50 jaar sien ek steeds die prentjie voor my geestesoog.

Mangels het net een ding beteken – roomys! Al die kinders wat al in die hospitaal was om hulle mangels te laat uithaal, het roomys gekry, en dit was die eerste ding wat ek ook gevra het toe ek my oë oopgemaak het.

Ek kan ook onthou dat my goot niggie, Nelie, kom inloer het. Sy het vir my ʼn groot, sagte malvalekker gebring.

Alhoewel ek maar net vyf jaar oud was, was ek niks bang om alleen by die hospitaal te bly nie. Die verpleegsters was nie besonder gaaf nie, maar daar het die hele tyd ʼn ou tannie op die voetenend van my bed gesit. Sy het ʼn swart crépe rok aangehad, en so ʼn klein swartrandhoedjie. Sy was kleinerig met so ʼn sagte gesiggie, die ene plooie. Sy het nooit ʼn woord gesê nie, net vriendelik geglimlag as ek na haar kyk.

Ek was nogal verbaas toe ek agterna hoor dat niemand die tannie daar gesien het nie, sy het dan die hele tyd by my gesit. Net so het ek dit glad nie vreemd gevind dat sy buite besoekure daar was nie, of dat sy nie ʼn woord gepraat het nie, of dat die verpleegsters hulle ook nie aan haar gesteur het nie!

Advertisements