Sleutelwoorde

,

Om ‘n nuwe begin te maak is nie vir my ‘n vreemde konsep nie, ek het al verskeie nuwe beginne in my lewe gemaak, ten spyte van die lekker sagte voerings in my groewe, wat so lekker gemaklik lê.

‘n Nuwe huwelik.

Die omvergooi van alle sekuriteit wat betref beroep, pensioen en ‘n ‘veilige’ lewe, om ‘n nuwe lewe in Kleinmond te kom maak, sonder dat ons hoegenaamd ‘n idee gehad het hóé ons dit gaan doen.

Die verskuiwing van blog-platform is ‘n vulletjie gemeet teen vorige radikale verandering, maar vir my is dit nogal ingrypend.

LitNet is al deel van my lewe vandat Etienne van Heerden dit 12? jaar gelede begin het, en ek met ‘n dial-up my telefoonrekening opgejaag het. As MaanKind het ek baie vriende gemaak, en ek is dankbaar daaroor. Dit het my lewe verryk op maniere wat geen mens kan besef nie. Dit was vir my die natuurlike keuse toe ek begin blog het

Natuurlik kan almal nie van almal hou nie, en ek verwag ook nie dat my skrywes oor my lewe in elke mens se smaak sal val nie. My standpunte en my geloof verskil van baie ander mense s’n, maar respek is tog iets wat ons vir mekaar het, wat jy vir die siel van die mens het, en elke persoon se agtergrond en omstandighede maak dat dit jou standpunte oor dinge beïnvloed.

Ons almal verskil, ons sieninge van mekaar verskil. Self is ek middeljarig, van gemiddelde intelligensie, vrou, ma, stiefma, ouma, halfpad afgetree en ek sukkel nog al my lewe met 5 kg wat ek graag sou wou verloor. As ek egter in die spieël kyk, sien ek ‘n gesonde vrou wat met haar bietjie talente gewoeker het en hard geleer en gewerk het het en haar kinders goed grootgemaak het en lekker kos kook vir haar man en die goeters doen wat ek graag wou doen my lewe lank. Ek is gesond en gelukkig en tevrede met wie en wat ek is. My lewe is vir my lekker. Die goeters wat ek doen is vir my lekker en dit sluit blogging in.

As daar ander mense is wat nie so daaroor voel nie, dan is dit net dit – hulle eie persepsie. Dit voel vir my onnodig dat ek myself plesier ontneem omdat dit ander nie pas nie. Die afgelope ruk was daar baie dingetjies wat ek graag sou wou deel, maar ek kon nie. Ek wou soms ook kommentaar lewer, maar ek kon nie.

Mens doen dikwels dinge waaroor jy agterna spyt is, en ek is wel spyt dat ek al voorheen my blog uitgevee het. Ek het voorheen halfhartig op WordPress begin blog, maar my hart was nie juis daarin nie en ek het gesukkel met tegniese goedjies.

Ek is ook spyt dat ek onnodig mense gewantrou het, net soos wat ek mense te maklik vertrou het.

Ek is regtig jammer as ek op iemand se tone getrap het deur my Facebook vriendelys af te skaal.

Daar kom ‘n tyd in ‘n mens se lewe, wat dinge net skielik reg vóél, en dan is die verandering maklik. En reg. Dan is ‘n skuif maklik. Dankie dat julle plek maak vir my hier.

Kan ek nou asseblief aangaan met my werk (en my bloggery), noudat ek hierdie van my gemoed af het?

Advertisements