Sleutelwoorde

,

Ja ja, ek weet dis eintlik eers more, maar dit is vandag my pa se verjaarsdag. Hy sou vandag 86 gewees het. So vandag is dit vir my vadersdag.

Hy spook nog elke dag by my, veral in die winter met lemoentyd kyk hy steeds oor my skouer as ek een skil, om seker te maak dat ek nie slordig skil nie. En dan natuurlik elke aand as ek ‘n aartappel skil, maak hy doodseker dat ek dun en veral nétjies skil. Mens mors nie, en jy het respek vir ‘n ding wat jy eet. Jy is ook opreg dankbaar daarvoor. Ek hóór nog hoe hy sê, Nee magtag, Trisa! Gee hier dat ek jou wys hoe skil mens ‘n aartappel. Dan het daardie papierdun, amper deurskynende skilletjie so heel gekrul tot die aartappel klaar was. As kinders het ons hom natuurlik aangemoedig om te skil en te skil, sodat ma slap tjips moet bak. Hy was ook die perskeskiller en appelkoos-oopbreker vir konfyt. En vetkoekbakker.

Van my susters onthhou hom vandag so:

“Op 80 jarige ouderdom het hy steeds blokraaisels ingevul, sonder ‘n woordeboek. Hy het beroerte gehad, wat sy regterhand erg aangetas het, en dit met sy linkerhand ingevul. Hy kom ewe goed links en regs skryf. Al het hy hoe gebewe, hy het dit steeds in sy netjiese skrif voltooi. En vlymskerp gebly, tot ‘n paar dae voor hy oorlede is.”

(Hierdie foto is op sy 80e verjaarsdag gehou, wat ‘n groot geleentheid was, en vir hom soos ‘n ‘bruilof’ gevoel het.)

“Sou wat wou gee om vandag saam met my pa, op sy 86ste verjaarsdag, tee te drink, te kuier te lag saam met die familie, en van my ma se groot verskeidenheid gebak te geniet. Hy het altyd die dag en al die gaste so geniet. Gelukkig het ons dit gedoen terwyl hy nog geleef het! Hy sou so trots gewees het op al sy kinders, skoonkinders, kleinkinders en agterkleinkinders.”

“Het nou net met my Ma gepraat. Sy is besig om soutskonsies te bak om haar besig te hou .  Sy was so gewoond om te bak vir sy verjaardag- nou doen sy dit nog steeds…”

“Ek sit al heelweek met n traan in my oog….veral na donderdag se jag so naby sy verjaarsdag, hy sou dit so geniet het om saam te gaan!” (Broer wat jag) Hy het ook swepies gemaak tot op 79.

“En hy het heel naweek verjaar. En altyd gemaak of geskenke nie belanrik was nie, maar kon tog maar nie wag om dit sorgvuldig, stadig en met groot afwagting oop te maak nie.”

Ja, Pa. Dit was my standaard antwoord op alles wat hy gesê het, want mens het nie eintlik met hom gestry nie. En dan maar eintlik weer my gang gegaan, want hy het hom baie kwaai gehou, maar dis eers noudat ek terugkyk wat ek besef hy was glad nie kwaai nie. Wat hy wel was, was intelligent, belese met die mooiste sangstem – voorsinger in die kerk gewees al die jare, wat die Psalms ‘ingesit’ het voor die koms van die kerkorrel.

En nou is ek lus vir ‘n lemoen…

Advertisements