Sleutelwoorde

, , ,

Vanwaar ek hier sit, kan ek nie die see sien nie – ek kyk vas in die ‘notice board’ bokant my rekenaar, vol knipsels, wyshede en ander klein tekens van inspirasie. ʼn Veer wat ek byHeverCastle in Engeland opgetel het, ʼn plastiese Engeltjie met silwer blinkertjies aan ʼn toutjie, ʼn kaartjie van Moses uit ons Eagles Nest dae met ʼn Engel voorop, stringe krale, Feng Shui munte, ʼn klokkie, ʼn metaalbordjie met die Zodiac op, ʼn ikoon uit ʼn eeue-oue klooster in Cyprus, en nog ʼn paar onbenullige dingetjies.

Hoewel ek nie die see kan sien nie, kry ek kort-kort daardie lekker kelpreuk wat op die seebriesie aangewaai kom, en dis dan wat ek my seëninge tel. As mens die see ruik, word jy herinner aan die grootsheid van die natuur.

Dit is dieselfde natuur wat ons die afgelope tyd wêreldwyd teister met aardbewings, oorstromings, veldvure en ander natuurrampe. Sonder om statistieke na te gaan is dit vir enige leek duidelik dat daar ʼn geweldige toename in natuurrampe was die afgelope tyd.

Global warming word telkens die skuld gegee hiervoor, maar ek vind dit nogal ironies dat ons verlede jaar in middel November steeds wintersrige klere gedra het. Nie dat ek kla daaroor nie, die koue en mis en wind en wolke spreek tot my siel. Ek wil die weer sién en ek wil die weer voél. Ek is mal oor ons winters in die Kaap!

Een goeie dag  toe ek oor die radio hoor dit is die koudste dag van die jaar, het ek lekker ge-jas, ge-serp en ge-handskoen winkel toe gestap, in so ‘n sagte Kaapse stuifreëntjie. Die eerste omie wat ek teëgekom het, het gegroet met die woorde: “Koud, nè?”

In ‘n klein dorpie ken jy mos maar die mense, en elkeen groet. Maar waaroor praat almal? Reg geraai, oor die koue en oor die reën.

Ek glo nie daar is een ander onderwerp waaroor mense so maklik praat as oor die weer nie. Kyk maar wat gebeur as ‘n groepie mense bymekaar kom, eerste waaroor hulle praat is die weer. Gelukkig is dit darem ‘n veilige onderwerp, as vreemdelinge bymekaar kom, is dit ‘n gerieflike ysbreker. Dit maak nie saak of die son skyn, of dit warm of koud is, en of dit reën of hael of sneeu, en of die wind waai nie. Die mense praat – en hulle kla.

Vat nou maar vir ou oom Gert. As dit so lekker reën, dan kyk hy so in die verte in en sê: “Dit lyk darem of dit vanmiddag gaan opklaar”.  Klaar dit op en skyn die son lekker vir ‘n paar dae, dan reken hy weer: “Die weerman voorspel darem more ‘n goeiekansvir reën.” Hy is net nooit tevrede met die weer soos dit op daardie dag is nie. In die winter kla hy oor die koue en in die somer voel hy weer so benoud van die hitte.

Dan is daar die oom wat bou-werkies doen. Dit maak nou glad nie saak of ons al bibberend ons jasse stywer om ons vou, of die wind trotseer, of sweet afvee nie, hy groet jou in elk geval met ʼn, Lieflike dag, is dit nie? Dan bedoel hy dit ook, vir hom is dit elke dag ‘n lieflike dag. Daar is vrede in sy hart en hy is gelukkig met wat hy het.

Dis toe dat ek begin wonder, is hoe ons voel oor die weer nie maar net ‘n aanduiding hoe ons self voel op daardie gegewe dag nie? Vir ou oom Gert sal min dinge in die lewe tevrede stel. Alles lyk vir hom moeilik en hy sien op teen dinge. Waarom laat ons toe dat as ons swaarmoedig voel dit ook uitkom in hoe ons die wêreld om ons sien? Die weer is maar net, elke dag daar vir ons om te sien, te ervaar en te geniet.

Die weer is een van die eerste dinge waarvan ons elke oggend bewus is as ons wakker word. Dit bepaal ook ons klere vir die dag, hoeveel lagies moet ons aantrek, en of moet ons dalk nog ‘n ekstra jas ook moet vat. Dis geen wonder dat ons dadelik aan die weer dink wanneer ons ander mense teëkom.

Mensekantog so swaarmoedig word as dit vir ‘n paar dae aanmekaar reën, dan voel hulle later net so grys soos die lug daar buite. Waaraan hulle nie altyd dink nie, bokant daardie grys wolke is nog steeds blou lug, al sien mens dit nie van onder af nie, maar as ‘n vliegtuig sy neus so bokant die wolke uitsteek, is dit tog te snaaks om af te kyk op die wolke.  Die son kan tegelyk skyn bokant die wolke, al reën dit hier onder by ons.

Net so hoef ons nie donker binnekant te voel net omdat dit buite grys en somber en mistig is nie, want elders, en selfs bokant ons, skyn die son helder.

Advertisements