Sleutelwoorde

, , ,

Doodles, notas, krap – noem dit wat jy wil. Maar krap, krap ek. En hoeveel maal verstaan ek nie ‘n woord daarvan agterna nie. (Hier het ek ook oor ‘n gekrap in die nag geskryf)

Terwyl ek nou lekker speel met my nuwe projek, vind die liewe MaanMan dit mos goed om ‘n meubelstuk te skuif in die huis. Julle ken mos daardie kannetjie wurms. Jy skuif een tafeltjie soontoe, dan maak dit plek vir iets anders, en dan is hierdie werkstafel van jou in die pad, en kom ons skuif jou naaimasjie se tafeltjie, en wat van ons gebruik daardie telefoontafeltjie daarvoor. En voor ek my oë uitvee, dan is Casa Maan in rep en roer en kaste word uitgepak en bakke word geskuif en die wurms peul oral heen en die blik wil nie weer toe nie.

Met die skuif van die telefoontafel, ontdek ek toe twee ou telefoonboekies met nommers in. Mens gebruik mos nie meer daardie voosgevatte boekies nie.

Die scary deel is die hordes nommers wat nou irrelant is, mense wat getrek het, vriende wat dood is en nou net via my gedagte-lyn gekontak kan word. Een van hierdie het selfs sy handtekening as getuie agtergelaat agterin by XYZ. (Eintlik wil ek nie aan hom dink nie, hy het my hartsvriendin en homself doodgeskiet)

Dit voel soos ‘n deel van my geskiedenis wat ek nou weggooi. Gaan ons kleinkinders nie eendag dankbaar wees as mens so ietsie gehou het van hoe kommunikasie was nie? Daar is so baie dingetjies wat ek graag sou wou bêre dat hulle kan sien hoe ons gelewe het, maar ek is bevrees dis net ‘n verskoning om weer vas te klou aan iets. Om op te gaar.

Gooi uit! Maak skoon! Word self emosioneel skoon in die proses…

Advertisements