Sleutelwoorde

, ,

Danksy bloggers Klippie en Slakkelak is ek ook nou weer vandag terug op die plaas!

As kind wat op ‘n plaas grootgeword het, kon ek nie wag om die plaasstof van my voete af te skud nie. As klein dogtertjie het die lewe op die dorp soveel anders gelyk. Lekkerder, met meer dinge om te doen en ander eetgoed as dié wat ons geken het.

Hoe het ek nie die brood gehaat wat my ma gebak het nie! Nogal met aartappel¬suurdeeg, en raai wie moes daardie aartappel rasper vir insuur? Ek onthou na veertig jaar nog steeds die resep hoe om in te suur.

Op die plaas het my ouma nog in die buite-oond brood gebak, want die stoof se oond was te klein vir al die panne. Die brood moes hol klink as jy met jou kneukels klop, dan was hy gaar. Daar is dan bietjie water oor die korsie gesprinkel voordat die brood in ‘n doek toegevou is.

My ma het altyd vetkoek gebak as daar die dag geknie is. Heerlike groot goudbruin vetkoeke, met so ‘n bros korsie.

Hierdie is net 'n paar van die vrugtebome op die einste plaas waarvoor ek my so geskaam het. Wie wil nou die mandjiesvol perskes, vye, lemoene, mango's, avokadopere, appelkose, nartjies en koejawels eet as die dorpskinders bokse met koelkamer-appels eet?Ek het my as kind dood geskaam vir die tekstuur en kleur van die brood, en dan was daar ook nog soms gemaalde kaiings op my skoolbrood gesmeer, vir proteïene, het my ma gesê. My hart het gesmag na my dorpsmaats se sponserige wit winkelbrood, met rooi tamatiesous op, of lekkerste van lekker, gekoopte blikkies-konfyt… Self het ons net tuisgekookte konfyt by die huis gehad, waaroor ek my eweneens geskaam het. Daar was rye en rye blink gevryfde bottels met verskillende soorte konfyt in die spens, soort by soort gepak. Swart-pers moerbei, appelkoos, perske, en heel lemoenstukke.

Ek onthou ook die blikke der blikke tuisgebakte koekies en beskuit. Die vierkantige geel-geverfde paraffienblikke het in sulke rye op die vloer in die spens onder die rakke gestaan, vol koekies, net reg vir vat. Daar was geen beperkings op ons kinders nie, solank ons net ons kos geëet het, kon ons maar vat – appelkooskonfyt koekies, gemmerkoekies, vlakoekies of vierkantige blokkies krummeltert. Maar waarna het hierdie plaaskind se hart gesmag? Na ‘n pakkie gekoopte koekies! Verkieslik die gemengde koekies, met die een koekie wat in sjokolade gedoop is in blink papier toegedraai, wat almal wou hê.

Dan was daar ook die vreeslikste van dae – slagtyd. As daardie vark die dag die dag geskreeu het dat jy hom tot op die buurplaas kon hoor, kon jy weet die genadeslag is enige oomblik, en dan begin alles in plek val en elke persoon weet wat om te doen. Teen die aand, moes die vark en die bees klaar bewerk wees, die wors gemaak (met regte visderms, wat ons vooraf by die slaghuis op die dorp bestel het, en wat ons kinders opgeblaas het in sulke lange lelle) en die bure se karmenaatjies – of kernaatjies soos dit toe genoem is – afgelewer.

Die lekkerste was laatmiddag, as die kaiings uit die swartpot geskep is en in panne ingebring is huis toe. So lekker sout. Ons kinders moes wegbly van die vuur af, so ek het nooit regtig die proses van varkspek uitbraai gesien nie. Nee, ons moes daardie varkspek in netjiese blokkies sny. Hope en hope spek, wat eers in repe gesny is en dan in blokkies, sulke glibberige hope wit spek. Maar ai, as daardie kaiings huis toe kom… My ma het altyd gewaarsku teen goormaag, maar luister was min. Dit was dieselfde kaiings waaraan ek so lekker geëet het waarvoor ek my geskaam het op my brood.

Ek onthou ook vir ontbyt was daar varkplakkies gebraai (sulke plat stukkies vleis) en vir middagete die garing, oftewel die fillet, mooi in ronde skyfies opgesny en in ‘n riffelpannetjie gebraai.

Nou verwonder ek my, dis nou presies dieselfde goed waarvoor ek my as kind geskaam het, waarna ek nou terugverlang. Wat sou ek nou wou gee vir daardie effense neuterige reuk van warm gaar brood, met geel plaasbotter wat wegsmelt daarin, met lekker tuisgemaakte appelkooskonfyt daarop wat so lekker afdrup. Altemit met so ‘n bakkie warm kaiings daarnaas. Vir ‘n soetigheidjie na die spyse, ‘n lekker stuk heel waatlemoenkonfyt, gerol in klapper.

Hierdie is maar net ʼn paar van die dinge wat vir ons baie algemeen was, maar vandag ʼn lekkerny.

Advertisements