Sleutelwoorde

,

Modderkoekie het werk uitgedeel, en dit dwing my toe badkamer toe om myself in my volle naaktheid te gaan beskou.

As kind was ek nogal wild, het van die huis se dak afgespring by meer as een geleentheid. Ek blameer nou die baie aerobics wat ek in die 80’s gedoen het vir my voete wat maklik seer word. (ek het selfs ‘n aerobics marathon  sertifikaat wat ek bewaar) Daardie letsels kan jy nie sien nie. Die enigste sigbare letsel wat ek uit my kinderjare oorgehou het, is waar ‘n doringdraad my kuit gesny het. Daar is so ‘n 3cm wit merkie, wat nie wys op ‘n foto nie.

Swangerskap is die een ding wat ernstige letsels op my lyf gelaat het. Ek was nog nooit regtig oorgewig nie, maar het die 10 dae wat ek ‘oor my tyd’ gegaan het met my eerste swangerskap baie erge rekmerke opgedoen. Daardie jare het ons gekraam as die baba besluit het dis tyd, en dan het jy die kind self ‘gebore’. Keisersnee’s was beperk tot mediese noodgevalle. Omdat ek altyd baie aktief was, was my maagspiere kliphard met geen vet nie, en die los vel het soos ‘n voorskootjie gehang na twee swangerskappe.

Die heup-tot-heup snymerk wat ek oorgehou het nadat die voorskootjie sjirurgies verwyder is, is die beste geskenk wat ek myself ooit kon gee. Detail onnodig dink ek…

Snymerke op elke pols (die een amper onsigbaar, die ander een meer so omdat ek saam met my kinders gerolskaats en geval het ‘n paar dae na die operasie) is niks sinistêrs nie, maar as gevolg van Karpale Tonnel herstel. Daar is ook ‘n operasieletsel in my regtersy waar ek in 1976 ‘n nieroperasie gehad het. Baie interessant, ek het ‘n NDE op die operasietafel gehad. Ek het gehoor hoe die narkotiseur paniekbevange raak, en toe ek van bo af kyk, kon ek die operasie sien gebeur. Ek onthou duidelik hoe dokter Engels die ander vertel het van sy beeste op sy plaas. Hy het hom wit geskrik toe ek hom agterna daarvan vertel, maar ek het vir hom gesê ek dink ek het wakker geword onder narkose.

Daar is ‘n klein pienk-wit brandmerkie op my regterarm waar die oond se element my verlede jaar nogal diep gebrand het. As al die vetspatsels en oondbrandmerke letsels moes laat, sou my hande en voorarms lekker bont gewees het!

Alles in ag genome, glad nie ‘n indrukwekkende lys nie. My emosionele letsels wat ek langs my lewenspad opgedoen het, het grootliks herstel, en dié van buite is skaars sigbaar.

Hopelik is die letsels wat ek op ander gelaat het ook min en nie té diep nie.

Waarin ek nou eerder geïnteresserd is, is om die merke wat ek gaan laat na hierdie lewe, so te maak dat dit plesier sal bring vir die wat daarna kyk en daaraan dink, en nie enige pyn nie.

Ek tag vir Turksvy En vir Son.

Advertisements