Sleutelwoorde

Almal praat mos deesdae van Bucket Lists (dit het my ‘n rukkie geneem om uit te vind wat presies dit is – tsk, nuwe terminologie!)

So luister ek nou een dag na iemand op die radio, wat nou gaan vlieglesse neem, noudat haar kind uit die huis uit is. Toe wonder ek oor ou drome, oor watter van my drome waar geword het, het ek bereik wat ek wou, en het ek gedoen wat ek wou.

Dit was ‘n enorme skok toe ek besef ek het my lysie afgetick, een vir een, ek het alles bereik wat ek wou, gedoen wat ek wou, behalwe die een ding wat ek nie gedoen het nie. Maar ek sou kon, ek wou net nie meer toe ek in die posisie was om dit te doen nie (Uit ‘n vliegtuig spring)

Sou dit beteken dat my lewe om en verby en kapoet is as ek al my ideale bereik het? Sommige mense sal wel redeneer my ideale was maar vlak en min. Dalk was dit, maar dit was myne.

Daar was dinge wat bygekom het langs die pad, en net twee goed het van die lysie afgeval, die uit die vliegtuig spring, en my wens dat my kinders my op 100 net een keer nog om die ysskaatsbaan moet help (my oudste kléinkind sal op 60 waarskynlik nie meer kans sien nie, al is hy nou ‘n baie kranige ysskaatser)

  •  Ek wou navorsing doen by die RGN (ek het)
  • Ek wou oorsee gaan (ek het – ‘n paar maal, en beplan aan volgende jaar se reis)
  • Ek wou met ‘n slim Engelsman trou (ek het, en ons is baie gelukkig saam)
  • Ek wou ‘n Merc uit die boks uit kontant koop (ek het, al het dit my geen kicks gegee nie, en ek ry nou ‘n Corsa Lite)
  • Ek wou ‘n boek skryf (ek het)
  • Ek wou by die see bly (ek doen en dis heerlik)
  • Ek wou ‘n huisvrou wees en my kinders langs die netbalbaan bystaan (ek het, vir ‘n tyd)
  • Ek wou my eie besigheid suksesvol bedryf (ek het, meer as een)
  • Ek wou leer rekenaars werk en programmeer (ek het, en goed gedoen daarmee)
  • Ek wou lees vir ‘n lewe (ek is al betaal betaal om te lees, lekker nè)
  • O ja, en as kind het ek gedink ek wil eendag beroemd wees (Ek is dankbaar ek is nie)

Hierdie is sommer net ‘n paar goeters, meestal materiële  goeters wat nou net afgetick is op die lysie, maar die dieper geestelike goed, voel ek gelukkig dat ek meer gekry het as waarvoor ek ooit kon hoop.

Dan was daar ook ‘n onnoembaarheid of twee wat ek wou beleef (en ek het) maar dit daar gelaat.

Ek is nou nie sinies of snaaks nie, maar op ‘n manier voel dit vir my ek het my kant gebring. En genoeg is genoeg.

Nou geniet ek net my lewe. Met dankbaarheid in my hart. Dag vir dag.

Wil jy vertel van jóú Bucket List?

Advertisements