Sleutelwoorde

, ,

Daar is ‘n uitdrukking wat praat van om jou eie graf te grawe, en ek het vanoggend by Gardiol my graf gegrawe, gesê ek sal blog oor ons besoek aan die vreemdste begraafplaas vandag.

Ella Gordon Dove Colston, ’n merkwaardige vrou kom in die 1920’s as toneelspeler saam met ’n sirkus uit Skotland in Suid-Afrika aan en hier het sy wortel geskiet. Sy het as die “perdevrou van die Overberg” bekend gestaan vanweë haar liefde vir haar perde en honde en hoewel sy baie geliefd was, was haar seksuele oriëntasie vir baie mense ’n steen des aanstoots. Sy was ook bekend as “die vrou met die kruisbande” en het haar liefde vir Klara op die plaas Karwyderskraal uitgeleef.

Weggesteek op ‘n plaas op die Karwyderskraalpad naby die Hemel-en-aarde vallei, is die vreemde begraafplaas vandag nog te sien. In nege uitgemerkte blokke, kompleet met verweerde grafstene, rus Ella Gordon se geliefde perde. Slegs ‘n paar se grafskrifte is nog sigbaar:

Wickers. Trick Hors. Clever, good and true. Aurevoir old friend. From EGDC

Booysums the wonder horse, we shall meet to part no more
Polly my saddle horse good and true. Rest thy work’s done,”


In die hoek van die gewone begraafplaas, is nog ‘n vreemde graf, langs dié van Ella Gordon. Die steen is gebars en verweer, maar daar is nog ‘n paar woorde sigbaar. Woppy my dog Died Nov 17 Age 18 Yrs. We’ll meet to part no more. RIP EGDC

Dramaturg Charles Fourie het ‘n paar jaar gelede ‘n stuk op die planke gebring: Ella se perde. “God se liefde is wyd, maar is dit wyd genoeg om honde, perde en lesbiërs in die hemel toe te laat?” was die tema van die stuk.

Stof is jy… En tot stof sal jy…

Advertisements