Sleutelwoorde

, , ,

Bileam se Donkie vra oor vergifnis. Dit was vir baie jare deel van my pakkie, wat ek langs die pad kon neersit. Hier is die storie, net in kort, wat ek vroeër hierdie jaar geskryf het.

Iets karring al die hele oggend in my gemoed, oor iets wat ek al jare gelede verwerk het. Duidelik het daar ‘n stukkie iewers in my onderbewussyn agtergebly wat nog skerp hoekies het, anders sou ek kon lag daaroor, en sou my mond nie nou droog gewees het nie.

Ons lewe as kinders was anders, gegewe die tyd wat ons groot geword het. Daardie jare was die verskil mos baie meer ooglopend in die manier waarop ‘arm’ en ‘ryk’ kinders aangetrek het. Armoede was sigbaar. Ons was arm, nie agterlik nie. Eerbaar. Ons lewe was een waar kerk, skool en kultuur jou gedefinieer het.

Ons skoolhoof was een van daardie wat onderskeid getref het. Dit het ‘n baie groot en seer merk op my gelaat, waarvan die letsels vir baie jare sigbaar was en ‘n groot invloed op my lewe, my selfbeeld, my liefdeslewe en studies gehad het. Ek wil nie eers daarvan vertel nie, want dis nie meer seer nie, dit maak nie meer saak nie. Dit was iets waarvoor ek ‘n rituele vuurtjie moes aansteek en briewe brand om te verwerk en te vergewe.

Maar dit het hom seerder gemaak oor die jare as vir my. Dit het hom gery. Hy het as sieklike bejaarde man my ouers ‘n jaar of tien gelede kom sien om verskoning te vra vir die onreg wat hy ‘n kind aangedoen het in die sestigerjare. Hy het besef dat longkanker besig was om hom dood te maak, en hy wou ‘regmaak.’ Vir die eerste keer na veertig jaar het hy vertel hoe hy die kind gehaat het wat die toppresteerder in sy skool was en hoekom hy dit op soveel maniere op haar uitgehaal het. Wat sy verpersoonlik het. En watter rol ander ouers se geld gespeel het.

Wat so verskriklik sad was, is dat ek gehuil het toe ek daarvan hoor – vir hom. Dit was ook nogal vir my betekenisvol van ons tyd, dat hy met my ouers daaroor gepraat het, en nie met my nie. Net so het my ma my eers onlangs daarvan vertel. Sy was bang om my seer te maak en intussen reis ek al baie lig daaroor oor die jare, en kon hom sien vir wat hy is, ‘n sieklike ou oompie wat opgevreet word deur skuldgevoelens.

Kort daarna het ek hom in ‘n ander dorp by sy kerk raakgeloop by ‘n geleentheid, en hy het my herken en laat kom om te groet. ‘n Laaste groet, kort voor sy dood. Sonder woorde het sy lippe gebewe en sy oë het om vergifnis gevra.

Ek het weer gehuil maar hierdie keer oor myself. Die besef dat hierdie patetiese ou oompie die oorsaak was van soveel ellende in ‘n ander siel. Die besef dat ek dit tóégelaat het was erger.

Ek het ook eers later jare besef – Dit was nie net ons wat arm was nie; daar was baie arm mense. Ek het net so verskriklik alleen gevoel, dié dat ek maar die skoolbiblioteek deurgelees het. Natuurlik tot die juffrou se ontsteltenis, wat die biblioteek moes gaan oopsluit vir die enigste kind wat vrywillig boeke uitgeneem het.

Lekker om ouer te wees, nè? Jy kan terugkyk met deernis oor jou eie en oor ander se lewens.

Advertisements