Sleutelwoorde

,

Toe ek vroeër vandag ‘n rooi Mini sien ry, presies soos die ene uit my verlede, toe gaan krap ek in my kas met ou diskette en papiere en goed om al my Mini-goeters te soek. Mini’s doen iets aan ‘n mens! Ek was aan geen ander kar van my so geheg as aan my rooi Mini nie. En dis die kar wat ek die minste wou hê.

En uiteindelik het die kar wat ek die meeste wou hê (‘n Merc uit die box) die minste vir my gedoen.

Maar my Mini. Hier vroeg in die 1990′s is my amper nuwe Toyota gesteel, en ons kon nie wag vir die versekering geld nie, ek moes dadelik ‘n nuwe kar koop. Ons doen mos nie juis skuld nie, en al wat ek dieselfde dag kon koop, was ‘n tweedehandse Mini. Net vir solank. Solank wat toe ‘n paar jaar geduur het!

Dit was mos net die tyd toe ek so lekker op internet begin speel het. Min mense het nog internet tuis gehad, en dit was maklik om vinnig vriende oor die hele wêreld te maak.

Ons het ‘n LIST gehad, van Mini-ondersteuners. Dit was so ‘n e-poskonsep watT3 nie meer gebruik word nie. (Mense wat daaraan behoort het was gekoppel aan mekaar. Ek vermoed dit het handuit geruk en stelsels oorlaai)

Ons het onsself M.I.N.I. genoem. Mini InterNet International. My ontwerp van die logo wat ek met die heel eerste weergawe van PhotoShop gemaak het, het gewen, en is vir baie jare gebruik. Die website het intussen verander.

Die man aan die stuur was Marcel Chichak van Edmonton, Canada, en hy is nog steeds fanaties betrokke met Mini’s. Hy het steeds die Mini genaamd Hugo, wat na my vernoem is. Een ou het uit Australië by ons kom kuier, Mr Bean homself nogal…, en ons het vir hom ‘n saamtrek in Johannesburg van Mini-maniacs gereël.

Daardie tyd was ek die enigste vrou tussen die klomp Mini-entoesiaste, en ek het byna elke dag ‘n pakkie van oorsee in die pos gekry. Boeke, hope CD’s (so het ek vir Loreena McKennitt en Sarah Mclachlan leer ken, voor hulle hier bekend was), Sjokolade uit Switzerland, bosse rooi rose by die kantoor afgelewer, ‘n subskripsie op die National Geographic vir 5 jaar, en soveel T-hemde van Mini-klubs dat my man nou nog daarmee draf. Daar is steeds ‘n nuwe in die kas, vir sommer net. Dan praat ek nou nie van die swart panties wat hulle tussen-in gesneak het nie … Eish.

So het elke mens seker een ou karretjie waaraan hy meer verknog was as aan enige ander kar! Wat was joune?

Advertisements