Kiara en die Fee

 

Ouma en Oupa stap met Kiara deur die bos

Hulle gooi vir die pragtige voëltjies kos

 

Skielik staan Ouma stil na die boom en staar

Wat het sy daar op die tak gewaar?

 

Ouma roep vir Oupa om te stop

Maar Oupa hou net vir Kiarakie dop

 

Kiara lag vir Oupa en loer

Te pragtig as sy so vir hom koer

 

Ouma roep weer ʼn keer: “Stop, Oupa, stop”

Maar Oupa hou net vir Kiarakie dop

 

Ouma loer weer versigtig na die boom

Sy het tog sekerlik nie gedroom?

 

Sy stap versigtig nader en kyk weer

Sy wil seker maak hierdie keer

 

En ja kyk, daar sit sy sowaar

Die fynste Fee – op ʼn blinke blaar

 

Die tak hang sommer lekker laag

Waarop die fraaie Fee haar lewe waag

 

Die strikkies in haar haartjies blink soos goud

Haar bruine ogies skitter stout

 

Die Fee se rokkie is blink en blou

Haar vlerkies mooi netjies opgevou

 

Ouma gaan staan doodstil en kyk

Die kleine Fee vee haar rokkie gelyk

 

Ouma roep harder hierdie keer: “Stop, Oupa, stop”

Maar Oupa hou net vir Kiarakie dop

 

Al verder weg sien sy hulle ry

Sy moet hulle net in die hande kry

 

Ouma word moedeloos en bang

Dat sy nie weer vir Oupa en Kiara gaan vang

 

Die stootwaentjie ry al verder deur die bos

Moet Ouma nou die Fee net hier los?

 

Ouma loop haastig agter hulle aan

Sy moet net vra dat hulle terug sal gaan

 

Oupa dink eers Ouma is laf en sy droom

Waar het jy nou al gehoor van ʼn Fee in ʼn boom?

 

Ouma sê: “Kyk Kiara, kyk die mooie Fee

Maar Kiara gee net ʼn vreeslike skree

 

Want agter die boom sit ʼn aaklige Trol

In sy gesig is sy neus ʼn yslike rooi knol

 

Sy blou oë wat blits maak haar bang

Hier moet sy wegkom voordat hy haar vang

 

Ouma kyk net na die Fee se pragtige blou rok

En Oupa hou net vir Kiarakie dop

 

Kiara wil so graag vir Ouma en Oupa vertel

Maar sy is bang dat sy Ouma sal ontstel

 

Grootmense dink hulle is slim want hulle kan tel tot tien

As hulle maar net weet wat babas alles kan sien!

(Kinderverhaal op versoek van Toortsie. En hierdie is ‘n ware verhaal, toe Kiara vier maande oud was, afgespeel by die Harold Porter Botaniese Tuin)

Advertisements