Is jy ook so boring soos Bileam en sy donkie?

Ek LIKE boring. Ons is ook boring. My vriende sê so. Ek kan net een glas wyn drink (vra my vriendin Janina, sy lag vir my), en ek is bang vir die stad. Veral om te bestuur.

Dan is ek nie te kort nie, nie te lank nie, net 5’4″. Nie te maer nie, nie te vet nie, soos krulkopkleinkind ewe bewonderend in die bad sê, Ouma, jy is so klein en maer… En jy het sulke snaakse plat boude… HUH?) Nie te mooi nie, nie te lelik dat kinders skrik nie. Nie te ryk nie, nie te arm nie, net sodat ons genoeg van alles het. Maar hard moet werk.

Nie te dom nie, maar nie te slim nie, ek moes baie hard leer om my paar papiere met rooi stamps op te kry.

Dan is ek sportief met lekker muscles, maar blink in geen sportsoort uit nie. Te lomp. Behalwe ek gooi ‘n mean dart. Is dit ‘n sport? En ek wen elke Scrabble game wat ek speel. Maar ek sukkel om Engels te praat.

My koordinasie is so swak dat die mannetjie vir my gelag het wat my getoets het vir my Scooter lisensie. By die RGN waar ek gewerk het, het ek die skoolgereedheids toets vir ko-ordinasie gedruip. Ons het IK- en aanlegtoetse opgestel en gestandaardiseer en die heel eerste gerekenariseerde toets in ons land het onder my keyboard lewe gekry. Maar ek het ‘n skoolgereedheids ko-ordinasietoets gedruip.

Dit klink na kontraste, maar dit maak van my ‘n gebalanseerde wese. Boring. Maar net reg. Vir my.

 

Advertisements