Sleutelwoorde

, , ,

Blogland is ‘n lekker plek. Hier loop die Pagan en die Priester saam, en jonk en oud, ryk en arm vat hand.

Ou bloggers sal weet dat ek gedurig wil vertel van hoe dinge in my dae was, ja vanmelewe se tyd, maar een ding kan ek julle sê, oor Godsdiens en wat ons glo of nie glo nie het ons nooit gepraat nie. Nooit. Dit was Kerksake. En oor Kerksake is daar nie sommer net so oor gepraat nie.

Nou is dit anders. Ons ontbloot onsself en ons harte. En ek praat nou maklik oor wat ek glo.

God is vir my die energie in ons en om ons. God is Liefde. Love is all there is. Ek dank God elke dag uit die diepte van my hart vir wie en wat en waar ek is (beide geografies en eksistensieel). Ek is diep dankbaar vir elke happie kos wat ek eet, al prewel ek nie ‘n paar sinne voor ete nie. Ek dank God dat Hy/Sy elke dag met my gesels deur boodskappe, mense, boeke en Engele.

Hoe die Teologie spiritualisme sien, en hoe ek Spiritualiteit ervaar, is waarskynlik twee heeltemal verskillende dinge. Kommunikasie met afgestorwe geeste? Natuurlik ja, as ek aartappels skil en my oorlede pa hier oor my skouer in my kop kom fluister, “Nee, my kind, jy skil te dik, mens mors nie kos so nie,” dan lag ek net en dink, Ja, Pa, as Pa nou hier was kon Pa dit geskil het. Nou skil ek, en ek mors nie, dit gaan terug aarde toe in die vorm van spoorelemente.

Nee ernstig nou, ek was nog net twee jaar oud, toe het ek een dag vir my ma gesê hulle gaan Wikus in ‘n wit kassie sit – drie weke later is die outjie toe nou begrawe in ‘n ‘wit kassie.’ Op vyf toe my blindederm uitgehaal is, was ek niks bang om alleen in die hospitaal te bly nie. Niemand het agterna verstaan van die tannie wat heeldag by my op die bed gesit het nie, want niemand anders het haar gesien nie. Ek kan vir jou honderde sulke voorbeelde uit my lewe noem.

Mense wat ek ken kom groet my, so ‘n week voor hulle oorgaan. Daarna gesels hulle nog na ‘n paar dae gereeld met my, en dan al hoe minder. Dis nie altyd maklik om te weet nie, soos bv verlede week het iemand na aan my op ‘n sielsvlak kom sê sy het kanker, en dit gaan nie lank wees nie. Sy weet dit nog nie self nie, maar ek weet. En ek moet bieg, hierdie deel is nie maklik nie. Hoe kyk ek haar hierdie week in die oë? So ja, ek gesels heeldag met Engele en ook afgestorwenes, en soms, as ek gelukkig is, sien ek die Engele. Ek vra hulle raad, en kry dit. En ek dank God daarvoor. Maar altyd maklik? Defnitief nie.

Is ek bang vir die dood? Nee, ek sien uit daarna. Want ek weet waar ek heengaan vir ‘n ruk, voordat ek in nuwe vorm gebore word om nuwe dinge te kom ervaar. In ‘n nuwe lewe. Om doodeerlik te wees, ek sien baie uit daarna om Lig te gaan Lewe in ‘n ander dimensie. Die ou grappie van die dominee wat vra, wie wil almal Hemel toe gaan, toe steek almal hande op. Toe hy vra, wie wil almal nóú gaan, was daar net ‘n geskokte stilte. Sou so ‘n vraag vandag vir my gevra word, sal ek my hand opsteek. Maar verstaan my mooi, dis nie omdat ek wil weghardloop van ‘n slegte lewe nie, inteendeel – my lewe is perfek. Alles is goed en reg en in plek, presies soos ek daarvan gedroom het as kind en jong volwassene.

Maar ek glo dat ons meer as een lewe het. Reïnkarnasie is die grondslag van dit wat ek glo, alles anders is daarop gebou. Ons begin hierdie lewe met ‘n plan in die hand, en die keuses van ons lewenspad lyk soos hierdie blou bal, waar een pool Geboorte, en die ander een Dood verteenwoordig. Die drade is ons lewenspad, met keuses en kruisings uitgestippel. Verdikkings by kruise is moontlike Exit Points.

So ja, ek glo daar is vrye keuse, maar beperk tot dit wat op jou Blou Bal gemerk is.

En jy? Wat dink jy? Wat glo jy?

Advertisements