Sleutelwoorde

, , , ,

Kan jy noot hou?

As kind is daar vir my met die doen van aanlegtoetse gesê ek is vir alles ewe goed aangelê en ek kan enige iets gaan leer.

In die jare toe ek nog produktief in die arbeidsmark was, was ek trots daarop omdat ek so veelsydig is. En kon enige iets doen. Letterlik. Ek het al in my lewe genurse, ge-admin, geleer, navorsing gedoen, lone by ‘n fabriek uitbetaal, by supermarkte gestaan en vir jou gevra watse seep gebruik jy en hoeveel verdien jy, werwing vir ‘n personeelagentskap gedoen, IK-toetse gemaak en gerekenariseer, met ‘n skroewedraaier in my aktetas rondgevlieg en stelsels en kaarte in rekenaars geïinstalleer (Daardie jare kon jy), lewensversekering verkoop, media analise gedoen, ‘n kwekery van nuuts af begin, ‘n Verimark franchise gekoop en self bedryf. Nou bedryf ek ‘n gastehuis by die see, en publiseer e-Boeke.

Maar. Ek kan nie noot hou om my lewe te red nie. As kind in ‘n baie klein plaaskool moes ons almal in die koor staan, maar ek moes net my lippe beweeg, ek mag nie saam gesing het nie. Toe ek nog ‘n gereelde kerkganger was, het mense my snaaks aangekyk as ek saamsing. Ek is baie lief vir musiek, veral opera en lig klassiek. Hier speel elke dag musiek in my huis. Maar dit help my nie om lief te wees vir musiek nie. Ek kan steeds nie noot hou nie.

Ek het ook bitter swak ko-ordinasie. Die jong man wat my moes toets vir my scooterlisensie het vir my gelag. En by die RGN waar ek gewerk het, het ons vir die grap al die toetse op onsself afgeneem. Ek het die ko-ordinasietoets vir skoolgereedheid gedruip…

O en ek kan nie dans nie. Kon nog nooit.

Wat is daar wat jy glad nie kan doen nie?

Advertisements