Iewers baie jare gelede toe MaanMan nog ‘n Belangrike Man in Johannesburg was, was ons gaste by een of ander plesierige perdewedren, die met die outfits en so, daar bo in so plek waar ons ons weddenskappe kon plaas. Nou MaanMan is nie ‘n man wat hom ophou met ‘n gedobbelry nie, maar ons tafelgenoot het saam met my ons weddenskappe geplaas en dan het ons met groot gejuig ons perde dopgehou en dan ons wengeld gaan haal en summier weer verwed. Plesierig is nie die woord nie. Ek onthou van so swart mini besigheid, en sulke wilde fish-nets met rose op. En ‘n sexy swart hoed. Mos op my prime gewees daai tyd.

Ons was net weer besig om ons nuwe perde te kies, toe ‘n man met sulke ysblou oë my op die skouer tik en vra: En hoe, presies, kies julle twee mooi meisies julle perde dat julle so aanmekaar wen?

Die res van die storie eindig vandag, wat ons ons 9-jaar herdenking in Kleinmond vier. Op 1 September 2002 het ons op hierdie presiese uur wat ek hier tik, stokflou hier aangekom – ek met my wit strykyster Merc, en MaanMan met sy bakkie en sleepwa, na 18 uur op die pad, met twee getraumatiseerde katte, op pad na ons hartsplek. Waar ons wérklik tuis voel vir die eerste keer in ons lewens.

Daardie een sin van die man met die ysblou oë, het ‘n reeks gebeure in plek laat val soos Rubik’s Cube wat in plek kliek, om my vandag ons herdenking hier te laat vier, terwyl ander Lentedag vier.

Hierdie deel kan ‘n mens eintlik net verstaan as ek ‘n effense agtergond gee van die paar jaar ná die Ontmoeting Met Die Man Met Die Ysblou Oë, en voordat ons hier beland het.

Kyk, ons is grootgemaak in ‘n tyd wat jy nie eintlik iets anders gedoen het as gaan studeer na skool, in ‘n ‘veilige’ rigting soos onderwys, sodat jy iets het ‘om op terug te val’ nie. Niemand het egter ooit gesê waarop jy gaan terugval nie.

Nou daardie jare het jy ook besluit watter werk jy wil doen, aansoek gedoen, en die pos gekry. Veilige beroepe, sekuriteit, pensioenskemas. Jy het ook nie sómmer van werk verander nie. Wrapped in security blankets, dit was ons.

Nou Die Man Met Die Ysblou Oë het in my lewe bly opduik, op onwaarskynlike plekke, ook by die Toastmasters klub waaraan ek behoort het, wat kilometers ver was van beide ons huise. Lang storie kort, een aand op pad Toastmasters toe vra hy ek moet hom ontmoet vir koffie voor die tyd en ons kom nooit by Toastmasters uit nie, maar begin ‘n besigheid saam. Ek het die volgende dag bedank. Net so. Security blankets se dinges.

Vyf jaar later was MaanMan ook nie meer ‘n Belangrike Man nie, maar deel van die besigheid (hy koop toe Die Man Met Die Ysblou Oë uit), en so bedryf ons toe tussen ons twee ‘n kwekery, en koop ook ‘n Verimark Franchise.

Nou dis toe wat ek na die kommersiële Kersfees-sirkus van 2002 wat my vingerpunte teen Nuwejaar bloedblase geslaan is op die till, en my knieë dik geswel, moeg genoeg was om daardie twee vliegkaartjies te koop.

Everything is in divine order, right now. Oh yes it is!

Advertisements