As my swaer nou liefderik uitroep, My skat! as sy hom verras met iets lekker, is dit mos nou totáál iets anders as wanneer hy met sy vuis op die tafel slaan dat die drankies rinkel en die brugkaarte rondskuif en hy skree, My Skat, my liewe fokken skat! (OK sy het ‘n foutjie gemaak met die roepery, sy moes dadelik gegaan het vir Drie-Geen-Troef en sy het nie) Hierdie toneeltjie is al dekades oud, maar steeds helder en duidelik voor my geestesoog…

Net so het ek een keer in Netanya in Israel in my beste Hebreeus vir ‘n man in ‘n winkel gesê, Koebaai en lekker dag (heeldag geoefen daaraan) Toe begin die man brul van woede en kom om die counter vir my. Mos ‘n emosionele lot, die Israeliete. My dogter (haar huistaal was Hebreeus daardie jare) gryp my toe aan my arm en skree, Hardloop ma! En sy trek los in ‘n stortvloed Hebreeus daar met die man. Toe almal kalm word, bly dit dat ek iets van sy ma en ‘n hond, of iets in der voege gesê het. Die klem van my woorde het die betekenis totaal verander.

Net so mis mens baie van stemintonasie en lyftaal hier op die blogs en op Facebook, en ek vermoed dis waar baie misverstande ontstaan. Soms dink ek ek sê iets heeltemal tong in die kies, dan dink mense ek is ernstig. Soek ek simpatie en hef ‘n klaaglied aan oor my smarte, dink mense ek maak ‘n grap.

Maar laat ek liewer net hier stop, voordat woorde soos Drama en Queen weer in een sin teen my arme koorsige voorkop geslinger word…

Advertisements