Sleutelwoorde

, , ,

My liefde vir lees kom uit my ouerhuis, beide my ouers was lesers.

As laerskoolkind in ‘n klein plattelandse skooltjie, was ek die enigste kind in my klas wat vrywillig boeke uitgeneem het, tot die irritasie van juffrou Millie, wat die biblioteek spesiaal vir my moes gaan oopsluit.

In die hoërskool het ek minder belang gestel in die skoolbiblioteek, maar veel eerder die dorpsbiblioteek se bibliotekaresse oortuig dat my ma nie omgee as ek liefdesverhale lees nie. Vroeg ryp, vroeg vrot, het my ouma gewaarsku, maar wat – ek is lankal ryp, en toe nooit vrot geword nie.

Op Goodreads het ek 271 boeke, en dit is net ‘n fraksie van wat ek gelees het in my lewe. Die meeste Afrikaanse boeke is nie gelys nie.

Almal vir wie boeke ‘n passie is, sal verstaan dat ek elke keer die afgelope 30 jaar as ek getrek het, eers uitgevind het waar die plaaslike biblioteek is, voordat ek geweet het waar om brood en melk te koop. Ek het lang, gelukkige verhoudings met die biblioteke van my lewe gehad.

Toe die keuse van ‘n aftreeplek ‘n werklikheid begin word, het ek net een vereiste gehad: Enige dorp by die see is goed, solank daar ‘n biblioteek is.

Klein Pietie Muis val al uitmekaar, maar wat wil lees is sy! En moenie dink jy skip 'n paragraaf nie, sy help jou regMy heel eerste storieboekie (circa 1960)  is steeds ‘n treffer. Ek ken nog steeds (of dalk weer?) Klein Pietie Muis uit my kop uit! Klein Pietie Muis val al uitmekaar en die blaaie is bros en vergeel, maar wat wil lees is sy! En moenie dink jy skip ‘n paragraaf nie, sy help jou reg…

Dit maak nie saak of ek dink harewastyd regverdig Karla Krullebol, of iets nuuts nie. Nee, ouma, Klein Pietie Muis.

Laat daar nie van my gesê word dat ek nie lees en liefde vir lees aanmoedig nie! My nuutste speelplek bring my twee groot liefdes bymekaar: Boeke, lees en die tegnologie.  Wat ‘n opwindende projek!

So ek het regtig nie nodig om vandag op ‘n straathoek te gaan sit en lees nie, ek bring my kant elke dag!

Arme oupa is al stokflou gelees, maar sy beduie wat gebeur. (Wie dink julle lees vir wie aan die slaap?)

Advertisements