Elke keer as ek nog hierdie lied gesing het, het ek tranerig gevoel. En toe ek nou hierdie opskrif skryf, sommer ook weer – net vir in geval… Na vandag se ete…

Mens kry mos vriende wat vir die res van jou lewe deel van jou hart en jou siel is. Al sien jy hulle nie baie nie. Een so ‘n vriendin is Jennifer. Sy was daar vir my in die moeilikste tye van my lewe, sy het my help wroeg oor die voordele en nadele van saamwoon vs trou (onthou ons praat van die 1980’s) en ook in die jare toe MaanMan vir ‘n jaar lank weg van die huis op ‘n Weermagkursus was. Toe ‘n hartsvriendin jare later op bloedige wyse deur haar man vermoor is, is sy die een wat my kom haal het (in ‘n ander stad ) vir die begrafnis. Ek moes my dooie vriendin se kinders regop hou in die kerk en na die begrafnis ondersteun, maar as Jennifer  my nie regop gehou het nie sou ek dit nooit kon doen nie.

Net so hoop ek was ek daar vir haar toe haar verloofde selfmoord gepleeg het, nadat hy ‘n bos geel rose by haar voordeur gelaat het. Knap daarna het nog ‘n hartsmens dieselfde gedoen, hierdie keer was dit net ‘n briefie aan haar, pleks van geel rose.

So het ons mekaar deur die regtige groot goed in ons lewens gedra, en nou nog kan ons mekaar se grootste geheime veilig bewaar. En respekteer.

Maar so is daar meer vriende wat oor jou pad kom, wat deel is van jou hart en jou siel. Met wie jy voel jy deel ‘n stukkie bewussyn. Wie het nog nie iemand ontmoet wat jy dink, maar hierdie mens ken ek mos al my lewe lank? Soms is dit mos net asof jy ‘n persoon ‘herken’. Persoonlik glo ek dat dit hierdie mense is wat deel vorm van jou Primêre Groep. Lewe na lewe kom jy hulle teë op jou lewenspad. Soms is ‘n mens gelukkig, dan is so ‘n persoon naastenby van dieselfde ouderdom en kultuur as jou eie, van die teenooorgestelde geslag, en viola – mense dink hulle het hulle soul mate gevind!

Een so ‘n vriend is die man met die ysblou oë van wie ek hier geskryf het. ‘n Hele dekade het vandag weggeval wat ons mekaar nie gesien het nie. Ons het die voorreg gehad om vandag saam om ‘n tafel te kon sit. Ons kon na mekaar kyk en dit was asof daar nie tyd verby gegaan het nie. Ons kon gesels op ‘n vlak waar ons tien jaar gelede opgehou het. Ons lyk vir mekaar dieselfde. Nou kyk, as jy my ken sal jy weet dat daar die afgelope 10 jaar ‘n paar kilogram, ‘n klomp grys hare en ‘n paar plooie bygekom het. Maar ons suiwerste siel het onaangeraak gebly. En dis daardie deel van mekaar wat werklike vriende sien en in mekaar herken.

Namasté…

OK almal saam: Sal ons ou vriende ooit vergeet en die goeie oue tyd? Die goeie oue tyd, my vriend, die goeie oue tyd! Sal ons ou vriende ooit vergeet en die goeie oue tyd?

 

Advertisements