Sleutelwoorde

, ,

Ons dink mos maar almal hoe ons ‘n ding doen, is die regte manier, en die hele wêreld wat dit anders doen is dié wat eintlik afwyk. Net so is dit slapenstyd. My eie slaappatroon voel vir my nét reg, en oor  MaanMan kan ek net my kop skud. Hy verstaan weer hoegenaamd nie dat ek soveel slaap nodig het nie.

Vir my voel dit doodnormaal om so 10-uur se kant gebad te wees en lekker geflennielyf is dit dan Kooi & Kindle – lekker lê en lees tot so 11-uur se kant, en dan ‘n droom uit te dink en reg te skuif tussen die kussings en te slaap en dan hoop op ‘n vlieg-droom. (OK met gordelroos op die arm en so brand-bo-arm en volmaan boonop is die regskuif die laaste tyd maar teoreties en hipoteties, maar vir effek hou ons maar by die storie)

MaanMan nie. Teen 9-uur gaap hy lankal, en sy biologiese klok skakel maklik ‘n uur of twee voor myne af.

Wakkerwordtyd is vir my as dit lig word. Opstaantyd ‘n rukkie later. Mens moet darem tyd hê om jou drome te oordink en uit te pluis. My lewe lank is my opstaantyd bepaal met ‘n wekker, en noudat dit nie meer nodig is nie, is dit een van my groot vreugdes om self wakker te word. Teen hierdie tyd is die arme MaanMan al ure lank op en wakker.  Gedeeltelik sy eie skuld, as ons Nartjieskil-kat so tentatiewe handjie uitsteek om my wakker te maak of met daardie skurwe tongetjie oor my arm lek, veeg ek haar van die bed af. Haar oupa MaanMan nie, hy staan op, vat haar om ‘n draai te stap buite, maak koffie en sit dan baie saggies en kyk wat bied die TV. Nartjieskil-kat skuif dan op sy skoot reg vir ‘n verdere slapie.

Punt is eintlik, ek slaap my volle agt ure, MaanMan sewe. En ons is boonop met ‘n uur of wat uit sync. My slaap en opstaan voel vir my presies net reg, en hy is doodtevrede met syne. Ek wonder wat dit in mens se lyf is wat daardie slaapritme bepaal?

Hoe slaap jy en joune?

 

Advertisements