Sleutelwoorde

,

Terwyl ek nou in ‘n kwaai bui is, en ook elders gelees het van iemand wat op sy bucket list het om  in een van ons ‘celeb’ kokke se restaurante te gaan eet, laat ek dit nou van my bors af kry. Voordat ek afkoel.

Die manier waarop reisartikels deesdae geskryf word (ook ingesluit hierby is die aanbied van joernaalprogramme), doen na my mening meer skade aan ‘n dorpie as wat dit die plek bemark. ‘n Goeie fotograaf kan ‘n foto uit die regte hoek uit neem dat dit na só pragtige plekkie lyk, jy begin sommer huispryse kyk. Dan word daar foto’tjies bygesit van vriendelike kunstenaars aan die werk, en die idee wat aan jou verkoop word, is dat jy in hierdie dorpie sal kan skouers skuur met die kokke en kunstenaars. Wee jou as jy jou kar pak en die dorp besoek. Dan kry jy hom soos hy is, stof en papiere en al, en al die dinge en mense wat gebruik word om die plek te adverteer, is nêrens te sien nie.

Net so word akkommodasie-plekke totaal wanvoorgestel. Foto’s van die plekke op hulle webwerwe is baie dikwels totaal anders as dit wat jy kry, maar wat jy eers sien nadat jy bespreek en betaal het. Hier het een mooi dag ‘n fotograaf aan my deur kom klop, en belowe dat as ek hom net sal kans gee (teen ‘n helske fooi natuurlik) sal hy foto’s neem van ons plek dat ons dit nie self sal herken nie. JUIS, het ek gesê en hom die deur gewys. Mense moet presies sien wat hulle by my kry. Ek kry dikwels dat mense aangenaam verras is as ek vir hulle oopsluit, dan sê hulle dit lyk baie beter as op die foto’s. Ek twyfel, dis net dat hulle gewoond is mense se prentjies lyk anders as die werklikheid.

As jy lees wat joernaliste skryf oor die wynlandgoede, en hoe vriendelik hulle deur die eienaars ontvang en getreat is, dan moet jy weet jy gaan nie náby daardie huis kom nie. Jy as toeris kom net tot by die verveelde meisie in die wynwinkel wat vir jou jou proesels inskink, en dan wag dat jy jou wyn bestel. Dis fine met my, maar die prentjie wat hulle van hulleself in die media skets, is baie ver van wat jy as toeris kry.

Miskien is ek te veel van ‘n WYSIWYG mens, maar ek kan my bloedig vererg as ek ‘n prentjie van kos sien waar restaurante geadverteer word, op selfs op die spyskaart (Hoor julle, Wimpy??? Op reis is dit dikwels al plek waar jy kan kos kry in ‘n dorp) en dan word jy ontnugter deur dit wat op jou bord kom.

Hierdie foto wat ek self geneem het is ‘n goeie voorbeeld. Geen mens sal dit herken as die De Bos dam nie. Daar is ‘n stofpad, met geroeste doringdraad en ‘n sloot vol ou plastieksakke, waaruit bossies groei. As jy egter op jou maag gaan lê in die grondpad, en jou hand deur die doringdraad steek so skuins agter die twee bossies, dan vang jy hulle blommetjies, pleks van die droë stofblaartjies. Net so regs van die lelike sementblok.

Advertisements