Sleutelwoorde

,

Braai is Nié My Erfenis Nié!

Terwyl almal nou so braaierig is hierdie week en beplan vir  Erfenisdag, dink ek toe mos daaraan:   Braai se dinges, dis g’n stuk My Erfenis nie. Niemand het ooit gebraai behalwe as jy kamp (as ‘n way to get the meat done) voor die vroeg 70′s nie. As jy my nie glo nie, vra bietjie jou ouers.   Meeste van julle wat hier lees, het met braai grootgeword. Ons het nie. Ons het grootgeword soos wat  Klippie so lekker nostalgies oor skryf. Daar was wel vir plaastroues (as daar bruilof gehou is) of ander groot familie-okkasies gebraai, maar dan het die ooms die vleis weg van die kuierplek gebraai, en die gaar vleis in skottels nader gebring etenstyd. Dit was bloot ‘n manier om ‘n groot klomp vleis gaar te kry.

Elke jaar hierdie tyd dink ek terug aan ‘n baie besondere Erfenisdag. Ongeveer 2000 moes ek ‘n skool toespreek oor die betekenis van Erfenisdag, en ek daag toe daar op met ‘n lekker uitgewerkte toespraak, met uitgesnyde letters wat spel H E R I T A G E.

Ek was net lekker aan die gang, toe kom stop die skoolhoof my, en sê ek moet asseblief dadelik stop, hy ry gou om sy videokamera te haal, hulle wil die toespraak op band neem, en kan ek die kinders besig hou tot hy terugkom, dan begin ek oor.

Nou hoe hou ek ‘n saal vol kinders besig? So vinnig het ek nog nooit gedink nie, toe laat ek maar die lot sing dat die saal so dreun, en ek sing tog te lekker saam. Heel jolig, tot die skoolhoof terug is en ek van voor af moes begin en hy begin opneem. Daardie dag het ek besef hoe wonderlik kinders is. Die enigste persoon wat ontsenu was, was ek.

PS Ons is lief om ‘n vuurtjie te maak en ‘n tjoppie te braai!

Advertisements