Sleutelwoorde

,

Ons gaan see toe! Séé toe!

Vir ‘n plattelandse kind uit die sestigs was dit magic woorde. Die see was ver en net vir ‘ryk’ kinders beskore. Die regering het ‘n wonderlike projek gehad daardie jare – Die Kinderstrand by Glenmore. Skole kon om die beurt hulle minderbevoorregte kinders nomineer, wat dan ‘n volle kwartaal in die koshuis gaan bly het, en daar skoolgegaan het.

Ons skool was so klein, almal van tien jaar en ouer kon toe gaan! My hart was aanvanklik aan flarde, want ek was nege, en die tien-jariges was in ‘n laer standerd as ek en hulle kon gaan. Don’t ask, ons het mos geskip in daardie jare. Gelukkig is daar ‘n uitsondering gemaak vir my.

Ons het met die trein gery, en die gesig van die Zoeloe-hutjies teen die grasgroen heuwels sien ek nou nog voor my. Dit was so anders as ons wêreld! Dis vreemd die dinge wat ek na amper 5 dekades nog onthou van daardie kwartaal.

Ek het geleer wat is opregte spyt. Marita en Carolina wat na ‘n bittere rusie gedwing word om mekaar om verskoning te vra.

Carolina, in trane met uitgestrekte hande: Marita, ek vra assebliéf om verskoning!

Marita, dikbek en kop-onderstebo wat mompel: Ek vra verskoning

Deernis van ‘n maatjie het daar betekenis gekry. Susan het my panties vir my gewas omdat sy gedink het ek het begin ‘siek word’, soos die groot meisies dit genoem het (dit was net ‘n bloedvint op die boud).

Ek het ook geleer dat greed (of gesonde verstand?) soms vrugte afwerp! Met Pick-a-Box het ek die geld gekies toe dit 25c word (ons weeklikse sakgeld was immers maar 15c) Ek is geboe, want almal het die Box gekies, maar ek was baie in my skik toe daar net ‘n ballon was in die box wat ek sou kry.

Ek het geleer dat ek nooit moeg sal word vir piesangs nie. Groot mandjies piesangs is elke dag vir ons afgedra strand toe,

Dit was die eerste keer wat ek wit margerien leer ken het. Dit was ook al wat ons gekry het om op ons brood te smeer. Groot was my skok toe ek by die huis kom en hoor dat wit margerien nou algemeen is. (My ma het dit darem met wortelsap gekleur sodat dit nie so sleg gelyk het nie)

Dan het ek geleer van ‘n klein twak – Dawie Malan wat vermakerig vir my skree, Geel tanne soos ‘n armie donkie… Geel tanne soos ‘n armie donkie… Vir jare het ek toegelaat dat my tande se natuurlike off-white kleur my minderwaardig laat voel. Daaroor! Ek wonder of Dawie dit sou onthou? En waar hy nou is?

My ma wat geweet het dat ek iets sal waardeer wat ek nie daar sou kry nie waarvoor ek lief was – sy het vir my twee kwepers saam met Mara se ouers gestuur wat kom kuier het. In ‘n koekblik, en die kwepers het gaargebak daar aangekom.

Tegniese vaardighede was ook deel van die kwartaal – Hoe om ‘n blikkie kondensmelk oop te kap teen die venster se pennetjie, en dit dan meng met ‘n blikkie Milo. Sulke piepklein blikkies. Ek sidder om daaraan te dink dat die taai bruin stof-gemors so droog geword het, totdat die volgende blikkie daarteen oopgekap word…

Dan was daar die weeklikse verpligte brief (wat gesensor is) wat ons moes huistoe skryf. Ons almal het gesukkel daarmee, want hoe opwindend die tyd by die see ook al was, het dit maar ook die realiteit van jou roetine geword. Geld dit nie maar vir enige nuwe opwindende verhouding of situasie nie?

Ek is baie dankbaar ek kon hierdie foto opspoor uit my ma se albums, en ek kan nou sien dat die pensie en die appelwangetjies en die bolletjie binnebene nie te wyte is aan die ekstra 5 kg nie…  en die plooiknieë niks met ouderdom te doen het nie…   gene is ‘n blikskottel!

 

Advertisements