Sleutelwoorde

, ,

Vandag 22 jaar gelede, was ek nou al ‘n paar uur lank mevrou Hugo. Ek was innig dankbaar, want met name soos Heila Levina Etresia, was dit nie maklik om nog Janse van Rensburg op enige vorm se blokkies ingepas te kry nie. Daardie van het my menige probleem besorg daardie jare, rekenaarvelde het net voorsiening gemaak vir x aantal blokkies. Daarby was liassering van jou lêer soms onder Janse, soms onder Van of selfs onder R. As ek vir MaanMan sê ek het hom vir sy van getrou, steek daar net so effense waarheidjie in…

Vandag het ons bietjie pad gevat, en gaan vier. Sommer net wynlande omgery, en uiters hedonisties met hierdie dag omgegaan, van vroeg af, vreeslik dekadent gewees, as simbool van dankbaarheid oor die abundance van ons lewe. Brekfis by Tokara, en later middagete by Joostenberg. Daar is mos die heerlikste Deli en Pork Butchery met allerhande delicatessen. Ek het ámper vandag daardie pakkie Frozen Frog Legs @ R359 p/kg by Joostenberg Deli gekoop! Gedink R32 vir die pakkie was ‘n bargain, maar die liewe MaanMan het daardie ranke boudjiies net één kyk gegee en gesê, no ways. Ek kon dit sien, saggies in bottertjies gebraai, met ‘n lepeltjie witwyn en ‘n klein bietjie room. Delikaat. Maar nee. Nou ja, na 22 jaar (eintlik 24 as jy die twee jaar se saamwoon bytel), weet jy wanneer om toegeeflik te wees. En vir die wat gril –  moes ek eerder die pak kwarteltjies gevat het? Hulle was so mooi verpak, met armpies gevou. Nes Tweetie.

Laatmiddag het ons darem ook eers ‘n draai by ons eie strand gemaak, om te kyk na die lagoon, wat op die punt is om deur te breek see toe. Dit is ‘n groot ding in ons dorp! Hy is voller as vol, maar die see het die afgelope jaar ‘n dik bank sand op die strand gestoot wat verhoed dat hy deurbreek.

Ten spyte van, ongeag en desnieteenstaande, is ek ongelooflik dankbaar dat my lewe verloop het soos dit verloop het, die 13 jaar wat ek Janse van Rensburg was en al, want alles op my paadjie is wat my gemaak het wat ek is: MaanKind, oftewel Trisa Hugo, of meer volledig – Heila Levina Etresia Hugo, voorheen Janse van Rensburg, gebore Pretorius.

(En vir julle jongeres wat soms sukkel met julle huwelike – Byt vas, die eerste 20 jaar is nie altyd maklik nie…)

Advertisements