Sleutelwoorde

, , , , ,

Jare gelede het ek die ‘voorreg’ gehad om op ‘n begeleide toer deur Pretoria Sentraal te loop. Dit was ‘n baie snaakse ervaring, en die energie daar het rillings op rillings deur my senuweeagtige lyf gestuur.

‘n Klompie jaar gelede was ek ook gereeld deur ‘Sun City’ (Diepkloof) se vrouegevangenis in Johannesburg, waar ons ‘n program vir die vroue aangebied het en vir die kleintjies speelgoed gevat het. Oor daardie hartverskeurende dae sal ek nie uitwei nie, hier lees sensitiewe mense ook. Sommer net ek en ‘n pel, nie deur ‘n organisasie nie. Die owerhede het ons goed ontvang daar!

Iewers in ‘n vorige lewe was ek seker in die tronk, want ek kan skielik aan klomp tronkstories dink! Soos die konserte wat die gevangenes destyds by Zonderwater aangebied het, en ons ons oë uitgehuil het vir die talent van hierdie mense en skoon vergeet het dat hulle om ‘n rede daar is.

Die kuier by neef Jock in Pretoria Sentraal sal ek ook nie lig vergeet nie. Sy ma het nog so mooi dankie-sê briefie geskryf oor ons twee rosies se kuier wat soveel vir hom beteken het.

As werknemer van die destydse Gevangenisdiens was etenstye om die brugtafel met kollega George, die 2 majore en die twee brigadiere as aflosse van die lekkerste in my lewe. Dit was ook die Gevangenisdiens wat betaal het dat ek geleerd kom.

Dan is daar hierdie pragtige klein juweelkissie wat een van daardie gevangenes vir my gemaak het in 1974, ‘vir meneer Jannie se girl, omdat meneer Jannie so goed is vir my’. Die afwerking is ongelooflik fyn en hy moes baie lank daaraan gewerk het. Ek wens so ek kan vir daardie man wys dat ek dit nog al die jare koester!

Ek het skoon van hierdie vergeet! – As kinders het my pa ook soms ‘bandiete’ gekry as daar ‘n bouwerkie op die plaas was, dan het ons skelm vir hulle twak gegee wat ons by oupa afgebedel het, en jam-brood. Ek onthou hulle lus vir iets soets. Ek kan nie othou dat ons bang was vir hulle nie, hoewel my ma ons van hulle af weggehou het..

Advertisements