Sleutelwoorde

,

Die sleutel haak effens as ek dit vir die eerste keer in die slot draai voordat dit skietgee en sag toeklik.

Die kamer lyk skielik kleiner as netnou, asof die meubels nou nader aan mekaar is. Marien het gesukkel om die bed op te maak, met dié dat die bedkassie te ná aan die bed staan. Sy het niks gesê nie, maar ek het gesien hoe sy na my kyk toe sy aan die kassie probeer skuif het. Dalk het sy gewonder hoe ek met my knokkelvingers die bo-laken elke dag om die deken gevou gaan kry in die té min spasie.

So ’n trekkery is uitputtend, maar Marien het die meeste van die uitpakwerk gedoen. Willem het hom darem verwerdig om die swaar bokse aan te dra, maar hy kon nie gou genoeg wegkom nie. Ook maar goed; Marien is na al die jare nog half op haar senuwees as hy naby is.

Had sy maar destyds kom praat. Net gister nog toe sy so ongeduldig was omdat my sorteerwerk nie klaar was nie, wou ek vra, maar haar ken het weer dáár in die lug gestaan.

Wis sy maar van die seer in my hart om my goedjies deur te gaan en die laaste spore van Danie uit te wis. Niemand het ooit van Danie geweet nie en hy moet nou maar in my hart woon. Net een laaste flenter papier waarop sy handskrif is, het ek in ’n boek gesit.

Hier is net plek vir een klein boekrak en ek kon net my kosbaarste boeke saambring. Marien het darem ’n klompie gevat, maar die res is net so in bokse in. Solank dit maar op ’n plek beland waar dit gelees word.

Ek sal moet eetsaal toe; dit help nie om langer uit te stel nie. Die gang voel langer as wat hy is. Die knie wil weer nie vandag nie. Dan moet ek eenkant toe staan dat die man met sy rystoel kan verbywiel. Die gang na die eetsaal het ’n klein opdraandjie en ek sien die verbete trek op sy gesig om ekstra spoed te kry. Hy konsentreer om veilig verby te kom en kyk nie op nie.

Dan is hy by my. Alles begin draai toe ek sy profiel sien. Die jare het aan hom gebeitel en sy kop is amper wit, maar dis hy. Amper gryp ek die reling mis. Teen die tyd dat die duiseligheid bedaar, is hy verby. Kan dit wees? Danie? Hiér? Na al die jare. In ’n rystoel. Ek voel weer hoe sy hande om my borste wat eens was, kelk.

“Ag my darling, eendag gaan ons dalk by mekaar uitkom. Saam op die ouetehuis se stoep sit, of iets.”

Hy moes gesien het hoe ek veg teen die trane.

“Solank jy net nie my rystoel se wiele afblaas nie.”

Advertisements