Sleutelwoorde

, , ,

Dis seker ʼn goeie ding om soms uit jou nate geskok te word deur iets wat jy lees. Hierdie week het ek vir die eerste keer die naam Gerhard Buchner gehoor. Soos wat die verhaal ontvou het, het ek eers skok gevoel, toe ongeloof. Hoekom weet ek niks daarvan nie? Dit het wel afgespeel voor my geboorte, maar so ook ander sensasionele gebeurtenisse soos Daisy de Melcker se moorde, en dit was en is steeds nuus.

Abortorium – Die verhaal van Gerhard Buchner: Vrugafdrywer. Hierdie is ʼn skokkende, ware verhaal. ʼn Verhaal wat vandat ek onthou, nooit publisiteit gekry het nie.

In die jare veertig/vyftig van die vorige eeu was dokter Gerhard Buchner een van die mees bekende en omstrede persoonlikhede in Suid-Afrika. Tydens die oorlogsjare het hy ‘n aborsiekliniek in Johannesburg bedryf wat oogluikend deur die owerhede toegelaat is.

Die samelewing het in dié tyd onder geweldige druk verkeer. Mans is ‘op Noorde toe’ en vroue is by die oorlogindustrie ingeskakel of het militêre diens verrig.

Ongewenste swangerskappe was maar een van die gevolge van hierdie sosiale wanorde. Dokter Buchner het uitgehelp en vanweë sy betrokkenheid by hoëvlak gevalle kon hy na die oorlog ongesteurd voortgaan met sy aborsiewerk.

Hy was ʼn kleurryke figuur wat hom geensins aan sosiale orde of reëls gesteur het nie.

Hy het beskerming van die hoogste politieke gesag geniet totdat die Smuts-regering in 1948 tot ‘n val kom en plek maak vir Malan en die Nasionale Party. Die nuwe ‘skoon’ regering het begin planne maak om Buchner vas te trek. Na een van die land se mees opspraakwekkende hofsake, in die stadium die langste ooit, is Buchner in 1949 skuldig bevind en het hy tronkstraf uitgedien.

Soms is die waarheid voorwaar vreemder as fiksie.

Abortorium is Boekemakranka se nuutste e-Boek. Kliek op die voorblad van Abortorium, om ‘n gratis proestuk van 10% van die boek te lees!

Advertisements