Sleutelwoorde

, ,

Vandag is daar ‘n stuk in die koerant oor ‘n nuwe boek, Hier staan ek.

Dié leraars vertel elkeen die geloof wat hul kerkverband bely, rym nie meer met die vertwyfelings wat hulle al jare lank in hul harte ronddra nie.

Die boek, Hier staan ek, is ’n bloemlesing van mense se verhale oor hoe hulle van die kerklike verstaan van God en Christelikheid afskeid geneem het.

Ek wil net vandag vir daardie predikante iets sê wat ek hoop hulle eendag gaan onthou. Jare gelede toe ek by die punt gekom het waar hulle nou is, het ek ook gedink nóú weet ek alles, moudat ek daardie dinge ontken waarmee ek Christelik-Calvinisties grootgeword het. Stelselmatig het ek weer besef daar is baie meer en weer verder begin oopmaak en lees. En nou is die grootste bevryding daarin dat ek besef dat die Universe soveel meer bied as net die ontkenning van Bybelse Christenwees. Dis veel, veel groter as dit.

God is groot, maar God is Energie. God is die energie in ons en om ons. En ons lewens en liggame hier op aarde, is nie ‘n stofdeeltjie van wie ons werklik is nie.

God is Liefde. Love is all there is. Ek dank God elke dag uit die diepte van my hart vir wie en wat en waar ek is (beide geografies en eksistensieel). Ek is diep dankbaar vir elke happie kos wat ek eet, al prewel ek nie ‘n paar sinne voor ete nie. Ek dank God dat Hy/Sy elke dag met my gesels deur boodskappe, mense, boeke en Engele.

Hoe die Teologie spiritualisme sien, en hoe ek Spiritualiteit ervaar, is waarskynlik twee heeltemal verskillende dinge. Kommunikasie met afgestorwe geeste? Natuurlik ja, as ek aartappels skil en my oorlede pa hier oor my skouer in my kop kom fluister, “Nee, my kind, jy skil te dik, mens mors nie kos so nie,” dan lag ek net en dink, Ja, Pa, as Pa nou hier was kon Pa dit geskil het. Nou skil ek, en ek mors nie, dit gaan terug aarde toe in die vorm van spoorelemente.

Maar ek glo dat ons meer as een lewe het. Reïnkarnasie is die grondslag van dit wat ek glo, alles anders is daarop gebou. Ons begin hierdie lewe met ‘n plan in die hand, en die keuses van ons lewenspad lyk soos hierdie blou bal, waar een pool Geboorte, en die ander een Dood verteenwoordig. Die drade is ons lewenspad, met keuses en kruisings uitgestippel. Verdikkings by kruise is moontlike Exit Points.

So ja, ek glo daar is vrye keuse, maar beperk tot dit wat op jou Blou Bal gemerk is.

Daar is net soveel boeke daaroor wat sin maak, wat sin gee aan my lewe, dat ek vir die eerste keer in my middeljarige bestaan voel ek is op die regte plek, op die regte tyd. Daar is ‘n diepe wete binne myself, nie daardie gevoel van vertwyfeling wat ek altyd gehad het nie. As iets reg is, voel mens dit mos binne-in jou diepste wese, jou selle. Hoe meer ek lees van ons Life between Lives, en van die wêreldwye neiging om dmv regressie sin te kry in wat in jou huidige lewe aangaan, hoe meer besef ek hoe universeel almal se ervaring daarvan onder hipnose is. En hierdie wetes maak my rustig. Vir die eerste keer in my lewe is daar rustigheid in my siel, en vrede in my hart, oor wat ek glo.

En jy? Wat dink jy? Wat glo jy?

PS: Jammer Bileam, maar dis hoe ek glo.

Advertisements