Sleutelwoorde

Weet jy wie jy is? Soveel mense word oud sonder dat hulle regtig weet wie hulle is en wat hulle wil hê. Waarvoor hulle bang is. Is die vrese onnodig? En moet jy iets daaraan doen?

Hierdie vierjarige weet beslis wie sy is, waarvoor sy bang is, en wat om daaromtrent te doen. Sy moes narkose kry vir haar tandjies, en haar ma het so mooi sy kon verduidelik wat gaan gebeur. Die aand voor die tyd, soek poplap toe ‘n pen, want sy wil haar naam op haar arm skryf, sodat hulle moet weet wie sy is as hulle haar aan die slaap maak. Haar ma verduidelik toe mooi van bandjies om haar arm met haar naam op, en sy is toe bed toe.

Die volgende oggend toe sy bad, toe dring sy aan om self te bad en aan te trek. Haar ma los haar toe, maar toe sy haar in haar stoeltjie vasstrap om te ry, toe sien sy hoekom wou sy self bad en aantrek. Madam het haar naam yslik groot op haar been geskyf. Hulle moet weet wie sy is as sy aan die slaap raak.

Die arme kind, hoe onseker moes sy nie in haar hartjie gewees het nie? Al het haar ma hoe mooi verduidelik en voorberei. Maar ‘n boer maak ‘n plan!

Vergewe maar die i se groot kolletjie, sy het self skelm haar naam leer skryf toe sy maar drie was. Sy het haar naam afgekyk van haar skooltassie en een goeie dag het sy haar ma geroep om te kom kyk, sy het haar naam self geskryf.

Duidelik ‘n kind met ‘n uitstekende idee van Self. ‘n Voorbeeld vir baie volwassenes met identiteitskrisisse!

Haar tannie reken sy het ‘n baie sterk wil om te lewe,  en goeie instinkte, en ek kan net saamstem.

Mag hierdie klein pop so grootword dat sy nie net weet wie sy is nie, maar ook waar sy wil heengaan. En dan gáán. En dat daardie oorlewingsdrang so sterk bly! Afrika is nie vir sissies nie.

Advertisements