Sleutelwoorde

,

November is tradisioneel NaNoWriMo. November is ons ook al midde-in ons vakansieseisoen wat die brood op die MaanTafel sit. Ons werk!

Dan is hier ook ‘n verdere klein komplikasietjie. MaanMan wou so ses weke gelede gou ons kamer se plafon verf, en soos die meeste DIY projekte in hierdie huis, was dit ‘n totale kan wurms wat nou oral krioel. Ons het kaste uitgepak en die meubels uitgedra en ons slaap nou in die studio langsaam (sodat die plafon nou geverf kan kom, sien?). Geen probleem, dis ‘n yslike vertrek en die queen bed en ander meubels pas maklik in. Dis net dat die studio oos front, en met die seisoenwisseling word ek nou douvoordag deur die son wakker gebak! En MaanMan is teen daardie tyd ook al lus vir die tradisionele geselstyd en die kan koffie voor brekfis. Omdat die kat mos nou blind geword in haar bejaardheid, en klokslag haar oupa in die nag kom wakker maak om haar uit te laat, kry arme oupa maar min geslaap, en wil vroeg kooi toe in die aande . Dan slaap hy nie weer na kat-uit-in-die-koue nie, en oordink die nuwe tools, skroewe, cornice, verf, rakke, kaste, groot spieël-in-raam, stof, nuwe saaglemme, gluegun, nuwe kasdeure, handvatsels, ‘n nuwe lig, vuller, skrapers, nuwe bore, onderlaag, meer verf, verfwalms. As dit deurmekaarklink, dit is.  En vir elke nuwe jobbie is daar ‘n nuwe tool nodig. Maar ons kamer gaan stunning lyk met die nuwe mure, nuwe kaste en ‘n reuse spieël. O ja, die plafon is darem al geverf…

Al wat ek eintlik wou sê, ons is vrék besig, en vir my is dit nou net kop omlaag. Daar wag ook nege nuwe manuskripte wat verwerk moet word om perfek op die Kindle te lees, so ek doen nou wat enige mens wat vir homself werk doen, ek werk nou lekker halfdag, en ek kies self watter 12 uur, en dan so klein bietjie oortyd. So. Van vandag af is dit ek en NaNoWriMo. En Boekemakranka. 50/50. Op julle merke, gereed…

(Maar intussen, gaan kyk hier na ‘n paar van Boekemakranka se boeke op Amazon!)

Abrham Nel – Kiewietan – Die verhaal van Kiewietan, ‘n Tswana-Afrikaner, wat grense en kleure oorskry

Abrham Nel – Willemien – Willemien onthou die emosionele proses van grootword as sy borskanker kry en haar kind haar soek, wat sy jare gelede weggegee het vir aanneming

Adele Reynders – Die stryd om Bateleur – Vir meer as veertig jaar het Ruanda Els se biologiese ma, dr Angelique McDuling, nie belang gestel om haar te ontmoet of beter te leer ken nie

Adele Reynders – Neptunus – Janneke is op 38 ‘n onafhanklike en ietwat onverantwoordelike alleenloper. Sy werk om haar lewe te geniet en haar duur kar te betaal, en alles gaan vreeslik goed met haar. Totdat…

Adele Reynders – Skaakspel met ‘n Maangod – Nadia Joubert ontdek dat iemand oor die rotskuns van die ou San kunstenaars verf

Adele Reynders – Totdat die vet vrou sing … ‘n Alternatiewe Operagids – ʼn Lekkerlees Liefdesverhaal in Afrikaans! Dis stouterig en snaaks. ‘n Kantoorflerrie wil op vyftig ‘n man vang…

Adele Reynders – Vuur van verlange – Daleen Gerber is deur ‘n nare egskeiding. Sy haat prokureurs en nadat sy Alida van Zyl se 1899 dagboek ontdek en gelees het, haat sy sommer die Engelse ook. En Thomas is beide.

Dries Brunt – Abortorium – Die skokkende, ware verhaal van dokter Gerhard Buchner – vrugafdrywer.

Dries Brunt – Drummer Man – Johnie Jongilanga, an idol without a halo, a superstar without glory

Viersprong – Nadia de Kock (Samesteller) – Kortverhale deur vier vrygeestige vroue. Verhaaltemas in die bundel wissel van rare vriendskappe, weerlose mense, die reislus, die baie vorms van liefde, keuses wat gemaak word en vrede wat gevind word.

Rika du Plessis – Eilandbruid – Karin Jordaan het nie sukses met mans nie. Sy woon aan die verkeerde kant van die spoorlyn, en is ook nie beeldskoon nie. Sy voer ‘n saai en eenvoudige lewe. Maar dan…

Rika du Plessis – Vlindervrou – Na twee vernederende egskeidings vat Amalia die pad uit die stad Vlinderland toe – Die ruwe stuk bosveldplaas naby die Kruger Wildtuin.

Sonjia Wolfaardt – Kensifabet – Safikol is ‘n geheime wêreld van toorkrag en mistiek…

Trisa Hugo – Banderillas – Sarita is ontevrede met haar lewe en wil aan die groener grassies aan die anderkant van die draad gaan peusel. Gaan die grassies van haar nuwe lewe lekker sappig en mals wees, of hard en bitter?

Advertisements