Sleutelwoorde

, , , , ,

Hierdie week is ‘n kind wat ek ken die ongelooflike trauma  van ortopediese operasies gespaar, deur alternatiewe terapie. ‘n Pragtige dogtertjie wat pyn sou deurmaak, littekens sou hê vir die res van haar lewe. Onnodig!

Laat my dink hoe my lewe sou gewees het as ek geluister het vir dokters. Hier rondom 1980 het ek een dag ‘n skielike pyn op my onderbuik gekry, soveel so dat ek later nie kon loop nie, en die dokter het dadelik gedink aan ‘n buisswangerskap. Hy het die suster twee maal ‘n swangerskaptoets laat doen, en wou nie aanvaar dat sy diagnose verkeerd kan wees nie, en my reguit hospitaal toe gestuur, en ‘n noodoperasie gereël. Daardie tyd het hulle baie maklik ‘n Laparotomie (oopsny om te kyk) gedoen, sonars was nie so algemeen nie.

Ek het gedink, Ja dokter (ordentlike taal vir jou moer, man) en my man reguit na my homeopaat toe laat ry, en hy het my een kyk gegee en gesê, lê op jou sy, buig so, hy het my lyf diekant toe en daaikant toe gedraai, en die werwel wat ‘n senuwee vasgeknyp het, het uitgeglip. Ek het daar uitgestap, met effense ongemak. (Die Homeopaat was ook opgelei as Chiropraktisyn).

Hier rondom 1998 het ek my rug op ‘n manier seergemaak by ons kwekery, en ek is hospitaal toe vir X-strale. Ek is daar uit met ‘n verwysing vir ‘n ortopediese sjirurg, met ‘n lys van foute in my rug so lank soos my voorarm. Van effense skoliose tot osteo-dit en spondeo-dat en dis degenerasie van dit  L3 en S1 en die versekering dat ‘n operasie sommer vanaand of more uitgevoer sal word.

Hierdie keer is ek reguit na dr Brugman in Randburg (Chiropraktisyn) wat die X-straal verslag een kyk gegee het en bloot gesê het, Kák! Hierdie is ‘n normale 40-jarige rug.  Hy het my rug bekyk, gesê lê op jou sy, buig so, hy het my lyf diekant toe en daaikant toe gedraai, en gereken na 5 sessies behoort alle pyn te verdwyn. Na die tweede sessie was ek so reg soos ‘n roer, en het net vir die derde een gegaan omdat ek so lekker massering daarby gescore het.

Ten spyte van al my klagtes, het ek nooit weer rugpyn van ‘n minuut oud gehad nie!

As ek netnou ‘n kers aansteek en saam mediteer vir Liefde en Vrede vir almal (Sien my 11-11-11 pos) gaan ek seker maak dat ek ook dink aan For the Highest Good of ALL, en spesifiek vir dokters se intensies, dat hulle ook Liefde vir die mensdom en die welsyn van almal voorop sal stel.

Advertisements