Sleutelwoorde

, , , ,

Wat sou jy doen?

Gister het my liewe MaanMan ewe trots ingestap van buite af, ‘n verskriklike groot bos seldery op die tafel gegooi, en gesê, Just call me Farmer John from now on. Nou ek gebruik baie seldery vir ons Green Juice.

Hoe klink die sap van ‘n pak seldery, ‘n groenrissie,  ‘n stuk komkommer, twee groen appels (pitte en skil en al), ‘n suurlemoen (pitte en skil en al), en ‘n stuk vars gemmer? As jy nie snaaks dink oor iets wat soos bloed lyk nie, gooi ‘n rou beet ook in.

Dis lekkerder as wat dit klink hoor! Jou lyf skree sommer so YES! as jy die eerste sluk vat. Die pulp gooi ek in pot met ‘n wortel, aartappel, ui en ‘n paar murgbene en dit maak die heerlikste sop. (Die vrugte se pulp gaan nie saam in nie). Mens kan ook net soveel sop eet, so ek vries al daai goedheid en gee dit vir ons plaaslike sopkombuis.

Nou my dilemma. Om nou nie daardie bos selderyblare te mors nie, spoel ek dit toe af, sny dit sommer so rofweg in die pot met ‘n skêr in stukke, en kook dit vinnig op met die idee dat ek dit vir die sopkombuis sal gee. EN TOE. Toe die water begin warm word, klim daar 2 groen wurms boontoe. Ek het eers die pot by die asblik uitgetiep voor ek in ‘n floute neergeswyk het. Iemand vir wie ek dit toe vertel reken ek kon maar net die items uitgehaal het en niemand sou weet nie. Ek sou dit nooit-ooit kon doen nie, dit sou by my spook. Wat sou jy doen?

(Nou het ek myself naar geskryf. Ontspan. Dink aan suurlemoene. Dink aan kersvlamme. Dink aan Oranje)

AAAH. Van oranje gepraat! As al die groen pondscum (a la MaanMan) vir jou te erg is, wat van ‘n glasie sap gemaak van wortels, appels, pynappel, suurlemoen en gemmer? Daardie pulp meng ek met Tiger oats, Lin seed, Sesame saad, Sonneblom saad, rosyne, heuning, Canola olie, en gekapte dadel. Ook ‘n bietjie buckwheat. Dit maak die lekkerste spysverteringskoekies. Ek eet elke oggend een as ek opstaan, dit kry jou metobolisme lekker aan die gang.

Al wat mislik is, is om die juice extractor uitmekaar te haal en te was.

Maar terug na my morele dilemma. Wat sou jy doen?

Advertisements