Sleutelwoorde

, , ,

Nee, hierdie is nie ‘n vreemde, nuwe ritueel uit MaanKind se weird gebruike nie, dis kerkterminologie uit die Middeleeue, toe MaanKind nog mooi en jonk was. Deesdae is ek ook nou aan die speel met Genealogie en die lekkerste is die ou foto’s van al die oupas en oumas. Gisteraand kom ek toe op hierdie foto van my ma af en toe dink ek weer aan die groot ding wat dit was toe ons ook jonk was. Jou Aflegging van Belydenis.  Of jy word Aangeneem. En dan Voorgestel. Dan kry jy ‘n Voorstelrok. Dit was nogal ‘n spesiale dag.

‘n Paar bloggers en Facebook mense het die afgelope tyd oor hulle geskiedenis met die kerk geskryf, toe besef ek ek het nie meer ‘n idee van kerkgebruike nie. My kinders het vroeg-vroeg in die hoërskool begin weier om kategese by te woon. (Ek het met Katkisasie grootgeword) Dit was vir my baie erg, ek het immers met hulle doop belowe om hulle gelowig groot te maak. Maar nietemin.

Deesdae is ons nie meer kerkgangers nie, maar ons lewe steeds volgens die riglyne van moraliteit waarmee ons grootgeword het.  Ek lees steeds in my Bybel, en ek Leef Liefde, wat ek glo die groot boodskap van die Bybel is.

Maar wat ek nie meer doen nie – onder geen omstandighede nie – Ek speel nie meer footsie met seuns onder die kerkbanke nie, want dit is ongeveer al wat ek uit my katkisasiedae onthou. Dit is die klein rooi Heidelbergse Kategismus.

Advertisements