Sleutelwoorde

, ,

Drie bloggers het my nou getag om saam te speel, so ek kan dit nie langer ignoreer nie. Toortsie, Son en Maryke. Drie maal is immers skeepsreg, het iemand eenmaal gesê… Ek weet nie of ek so gewild is, of mense dink ek het so baie sondes waaroor ek moet bieg, en of ek te min oor myself skryf nie. Dit kan beswaarlik wees, want ek is ‘n taamlike ekshibisionis. Dit sou natuurlik kon tel vir een van die sondes, maar hierdie is ‘n openbare forum, en my familie lees ook hier, so jammer, geen detail.

Ek kan absoluut assosieer met meer as een van elkeen van die bloggers se ‘sondes’, so ek vermoed mense se sondes is taamlik universeel, hulle onderspeel hulle sondes, hulle lieg, of hulle is saints. Want wragtag, die dinge wat almal noem, is maar net wat ons mens maak.

Die sewe doodsondes (hoogmoed, hebsug, wellus, woede, vraatsug, afguns, luiheid) het tradisioneel ‘n groot plek in ons geestelike lewe en in spiritualiteit.

Iewers is daar’ n Bybelse aanknopingspunt hiervoor. In Hennie Aucamp se keurige versameling essays, “Sewe Sondes, Nee Meer”, verwys hy in sy boeiende voorwoord tereg na Spreuke 6:16-19 as ‘n moontlike teks vir hierdie tradisie van doodsondes. Hy noem dat die vers wel praat van sewe sondes, maar hulle oorvleuel nie met die sewe wat veral in die Rooms-Katolieke tradisie gelys word nie.

Maar uiteindelik het daar toe tog ‘n lys van die sewe of die “volmaakte” getal van sondes ontstaan wat geleidelik ‘n soort van amptelike lys geword het. Dis ook nie sommer net ‘n lys nie. Daar is ‘n bepaalde hiërargie, soos Aucamp tereg opmerk, met  “hoogmoed as die “grootste” sonde.

Wanneer is ‘n sonde ‘n doodsonde? Die Kategismus van die Katolieke Kerk haal pous Johannes Paulus II in dié verband aan: “Om van ‘n doodsonde te kan praat, moet drie voorwaardes tegelyk vervul word: ‘Elke sonde wat swaarwegende materie as objek het en wat begaan word met volle kennis en weloorwoë toestemming, is ‘n doodsonde” (Reconciliatio et paenitentia 17). Om ‘n doodsonde te begaan moet jy dus as doel iets ernstig het (byvoorbeeld om moord te pleeg); terselfdertyd moet jy ten volle bewus wees van die erns van dit wat jy beplan en moet jy dit ook uit vrye wil en keuse doen.

Die lysie van die Sewe Doodsondes het aanvanklik vir my half laf gelyk, maar as mens kyk hoe dit op ons lewens toegepas word, maak dit eintlik sin!

Ek probeer nou dink watter van my ‘sondes’ sou geskik wees vir ‘n openbare forum, maar ek is bevrees ek gaan nie julle nuuskierigheid bevredig nie. Ek sal volstaan by die volgende:

  • Hoogmoed – Is hoogmoed dieselfde as windgat?
  • Hebsug – Lesse geleer oor prioriteite
  • Wellus – Die dag toe ek in “Die Bedryf” gewerk het. Die res is my geheim.
  • Woede – Miskien het kommer na woede gelei, maar nogtans.
  • Vraatsug – Kos is vir my lekker! Maar ek eet selde meer as ‘n porsie, of ‘n stukkie van iets.
  • Afguns – Ek probeer dink aan iets of iemand waarop ek afgunstig is, maar ek is eintlik met min tevrede, dankbaar vir alles wat ek is en het, en doodhappy met my lewe.
  • Luiheid – Ek is nie lui nie, maar ek stel uit. En ek vat kortpaaie. Ek prokrastineer vreeslik!

Ek lees of kyk glad nie bloed & derms nie, (lees nie eers Deon Meyer nie) en my Facebook status was vanoggend: Die nuwe webwerf met ongelukstonele (pas oor RSG gehoor die doel is om te skok dat dit ons gaan dwing om padreëls te gehoorsaam) gaan my nie skok nie, want ek gaan dit nie kyk nie. Ek bestuur reeds gehoorsaam dankie. As as jy vir my so foto gaan stuur, skaats ons vriendskap op dun ys… Maar Se7en was seker die enigste fliek in sy genre wat ek klaar gekyk het, en selfs weer gekyk het.

Is julle nou tevrede, Son? Toortsie? Maryke?

Amper almal is klaar getag, so ek tag net vir:

Amipatat

Kyker

Klippie

Francois

 

Advertisements