Sleutelwoorde

, , , ,

Vandag was ons vroegoggend op die rotse, voordat die son te warm is. Ek wou ‘n paar klippe hê en ‘n paar stukke droeë kelp. Ek het veel meer gekry as waarop ek gereken het – en nee,  ek praat nie van die dooie rob daar wat ek selfs tot hier kan ruik nie…

Kersversierings hoef defnitief nie ten duurste aangekoop word nie! Dit was vir my heerlik om bietjie goedjies uit te pak, suiwer oor die betekenis daarvan vir my. Hierdie Engeltjie  het ‘n maatjie en sy kom al ‘n paar jaar saam met my. Sy moet my herinner aan die fynbos waarvan sy gemaak is en die natuur, en die nederigheid van die kombuiswerk om Kersfees Krismis te maak.

Kersfeestyd is vir my ‘n ernstige tyd. Die jaar loop af en ek dink na oor die jaar wat verby is. Wat kranse veronderstel is om te simboliseer weet ek nie. Vir my is dit die ewige kring van die ewige lewe. Uit die natuur kom ons, en na die natuur toe gaan ons. Stof is jy en tot stof sal jy… En dan begin alles weer voor in ‘n nuwe inkarnasie.

 

En wat is Kersfees sonder bietjie blink, bietjie bling? Rooi = Lewe

Vrede op aande, en in die mense ‘n welbehae… Dit was ‘n baie besondere dag toe ons in Israel ‘n besoek aan die werklike Bethlehem Ster kon bring, omdat daar nie juis toeriste kon ingaan daardie tyd nie, en ek met my dogter se Israelse ID daardie gebied in is.

 

En so gaan ons dan die Kerstyd in, met gemengde gevoelens van blydskap, nederigheid en gewydheid, maar bowenal dankbaarheid.

Advertisements