Sleutelwoorde

, ,

Hierdie tyd van die jaar raak almal nostalgies, almal is vrolik, maar dit is ook die tyd wat almal baie maklik hartseer raak oor klein dingetjies. Dis ook die seer seisoen vir sommiges.

Vandag moet ek aan iets lafs dink om hartseer (sonder rede) te besweer. Gelukkig kan ek deesdae Daardie Dessitse Ding blameer vir wippende emosies.

Wat is vir jou opwindend? Vir mense wat aan ekstreme sport deelnaam, gaan hierdie nou seker vervelig klink, maar vir my was dit vreeslik opwindend!

Jare gelede, toe ek tussen huwelike was, het ‘n hartsvriend en ‘n vriend van hom my een dag met so klein Beechcraft vliegtuig kom haal op Wonderboom Lughawe vir die naweek. Dit was verskriklik opwindend om in so klein vliegtuig te vlieg, want ‘n Boeing voel mos soos ‘n bus wat indie lug loop. Jy voel so ná aan die lug, en dit voel of jy – wel, vliég!

Niks het my egter voorberei op die landing nie. Ek het maar aanvaar ‘n vliegtuig land op ‘n lughawe, waar ‘n kar sou wag wat hulle daar gelaat het om plaas toe mee te ry. Verkeerd! Ons het op die plaas in ‘n mielieland op so oop skoongemaakte strook geland…

Die aand is ons sigarette toe klaar. En toe vlieg ons dorp toe… En land (en ek lieg nie nou nie) in Hendrina dorp se middedorp (maw voor die kafee) en gaan koop sigarette. Vriend reken toe almal in die dorp weet, as hulle die Beechcraft hoor, maak hulle plek, want dis pa se landingsplek…

Dit was seker een van die opwindendste dinge wat ooit met my gebeur het. Om met ‘n vliegtuig dorp toe  gevlieg te word vir sigarette…

Vetrel bietjie op jou blog van ‘n opwindende ervaring in jou lewe, wat nie sommer herhaal sal kan word nie?

Advertisements