Sleutelwoorde

, , , ,

Dit lyk my die temas in mens se kop bly maar universeel. Ek het al baie voorheen geskryf oor kopskuiwe, persepsies en vooroordeel.

Vandag is al hierdie temas in my kop ineengevleg. Die afgelope maande het ek baie daaraan gedink. Hier in Casa Maan is dit net stil as daar ‘n kragonderbreking is, andersins is die radio aan, of musiek speel. Beide van ons hou nie juis van harde musiek nie, en aangesien ek die enigste een in hierdie huis is wat weet hoe werk die CD-speler (moenie vra nie!) is ek dan ook meestal die een wat die musiek kies. Vir werk kies ek altyd rustige Keltiese musiek, koormusiek, klarinet- of vioolkonserte. Mistieke tipe klanke. Barokmusiek. Nana Mouskouri, Joan Baez en Aafje Heynis se CD’s het nie eers ‘n plek in my rakke nie, hulle word te gereeld gespeel en lê reg om te speel. Sondagoggende met Fanie Smit en Saterdagaande U eie keuse. Julle het die prentjie? Toe kom Tribal Echo. Hier speel die klomp met hulle hip-hopperige jazzerige, Blues-erige Afrika-rige klanke reg in my hart in. Djy moet luister! (Dit staan op die t-hemde wat hulle aanhangers dra) Die eerste keer wat ek Aspoestertjie gehoor het, was by ‘n boekbekendstelling waar Frazer en Deniel opgetree het. Toe het ek gewéét hier kom ‘n ding. As julle wil hoor hoe klink Aspoestertjie, luister Donderdag 11:00-12:00 op Whale Coast FM. (Julle sal ongelukkig eers na my moet luister, ek is ateljeegas vir daardie uur in Petrovna Metelerkamp se program, en kan ‘n paar stukke musiek saambring)

Ons gaan onder andere gesels oor Boekemakranka, en dit is die tweede deel van my skrywe. Ek het seker laas liefdesverhale of romanses gelees toe ek op skool Ena Murray en Ettie Bierman verslind het. En nou? Nou is dit my passie om hierdie boeke uit te gee en te lekker vir my eie vooroordeel te lag. As ek dit verwerk, lees ek te heerlik daaraan!

Die heel nuuste een van Adele Reynders is soos al haar ander boeke, lekker humoristies, en ook nie volgens ‘n resep geskryf nie. Want ons is mense, ons is nie meer resepte nie. Ons pas nie meer in boksies nie. Volg die “Skrywers” skakel op Boekemakranka se webwerf om meer te gaan lees van hierdie mooie skrywer en kunstenaar, of kliek sommer op haar foto.

Daar is nog so baie wat ek kan sê oor  kopskuiwe, persepsies en vooroordeel, maar ek sal volstaan met:

A primary function of art and thought is to liberate the individual from the tyranny of his culture in the environmental sense and to permit him to stand beyond it in an autonomy of perception and judgment. – (Beverly Sills)

Advertisements