Sommige van julle weet dat Slakkelak my suster is. Sommige van julle wat my lankal ken, weet dat my een suster se huis ‘n jaar gelede heeltemal afgebrand het nadat die weerlig dit geslaan het. Sommige van julle het gelees toe sy geskryf het hoe hulle hierdie verskriklike tragedie hanteer het.

Wat sy nie geskryf het nie, was hoe traumaties dit was toe sy alleen op hulle smeulende huis afgekom het. Al wat sy toe oorgehad het, was ‘n oornagtassie. Hoedat hulle dae lank moes soek na hulle troeteldiere wat nie almal die brand oorleef het nie.

En gister – Gister toe sy alleen deur die plaashek ry, sy wat ‘n jaar gelede alleen was toe sy op die puin van hulle huis afgekom het, waar die as nog gesmeul het. Sy het gister weer – alleen – op dieselfde toneel afgekom. Waar die weerlig weer haar tydelike woonplek in ‘n bitter klein chalet, raakgeslaan het.  Sy het weer, soos die vorige keer, net ‘n karige oornagsakkie oorgehad. Die enigste verskil, hierdie keer was die as al koud. En haar laptop en kamera is gespaar, dit was by haar.

Hoe oorleef enige mens sulke trauma? Maar wat doen sy? Sy kan nie nou met mense praat nie, sy is te besig. Sy ry dorp toe en gaan koop parte. Vriende trek weer laer, soos die vorige keer en kom help om die waterpomp wat die weerlig raakgeslaan het

Hoeveel mense ken jy wie se huis afbrand?
Hoeveel mense ken jy wie se huis TWEE keer binne ‘n jaar afbrand?

Wat sy nie in haar blog geskryf het nie, is nie vir my om te vertel nie, maar ek kan nogtans sê dat syself in die middel van haar HOD-eksamens was, en dat al haar boeke gebrand het. Dat Marina as veeartsstudent twee dae na die brand ‘n groot eksamen moes skryf. Dat sy haar HOD met onderskeiding behaal het, ten spyte van die tyd dat sy voltyds skoolhou, en deeltyds die plaas vry van indringerplante hou.

Wáár kry mense krag en genade vandaan in tye soos hierdie? Hulle geloof het hulle staande gehou, en so sterk gemaak dat hulle vandag kan aangaan met dit  wat nodig is, sodat sy in die halfklaar huis kan intrek, met die allerbasieste goed.

Sou jy kon?

Dan die Ironie – Wat is dit wat my susters en my dogter laat saamspan het hierdie naweek, om vir haar en haar dogter wat April trou, ‘n tradisionele kombuistee te hou? So het hulle darem elk ‘n paar nuwe goed om mee te begin. Maar dit is ‘n absolute druppel in die emmer. En al die trougoedjies en babagoedjies wat nou gebrand het is eintlik niks, want hulle was veilig terwyl dit gebrand het en die storm bome rondom hulle blyplek neergevel het.

En wat vra hierdie gesin op my vraag, waarmee kan ek oor 2000 km afstand help? Geld dalk? Waarmee kan mense wat nader is wat vra, help?

Liefde. Dis al wat hulle vra. So al verstaan ons niks, al huil my ma, al vra ons waarom, en hoekom hulle, hoekom weer?

Al wat hulle vra is Liefde.

Indien daar enige persoon is wat ‘n liefdesgebaar wou maak, doen dit asseblief. Op enige manier wat jy in jou hart het.

 

Advertisements