Sleutelwoorde

, , ,

Wanneer laas het jy ‘n moord gepleeg? Ek het pas netnou, sonder om ‘n oog te knip. Hier is die lykie.

Maar dink julle nie hy het ‘n besonder mean gesiggie nie?

Jou vabond, wag, ek sal jou kry,
Van jou sal net ‘n bloedkol bly…

Waar pas die Heiligheid van Alle Lewe  in as ‘n mens koelbloedig jag maak op ‘n weerlose ou dingetjie met fyn, deursigtige vlerkies? Kry jy dit reg om steeds te sê, I love you, but go away, as jy vir die hoeveelste keer wakker word van ‘n brandkol op die arm of ‘n zoem in jou oor? Ek faal jammerlik. Sorry.  Ek vind dit ook moeilik om die sagte kol in my hart te vind vir ‘n plantluis.

Jare gelede het `n vriendin haar vreeslik vir my vererg oor `n stuk leer. Ek het `n suede baadjie gedra, met pels om die kraag, en sy was hewig geskok dat ek dit kon dra. Die suede was vir haar OK, maar nie die pels nie. Dit was dan onskuldige diertjies wat gesterf het ter wille van my stukkie pels. Wat ek nie kon begryp nie, was hoekom haar leersandale, belt, handsak ens OK was, maar die oomblik toe daar bietjie hare op die leer was, toe verander dit die sakie.

Maar ek vang myself gedurig met daardie selfde tipe redenasie – ek kry bv plantluise op my Geraniums, en sonder om twee keer te dink, gaan maak ek seepwater en spirits aan, want dis mos ekologies beter, en sal ook nie die voëltjies laat vrek nie. Toe tref dit my – ek is bekommerd oor die voëltjies, maar ek maak plantluise dood sonder om `n oog te knip? Nou hoe nou? Dubbele standaarde om myself te pas.

Maar wat ek eintlik oor vere wou sê, waarna ek in gister se inskrywing verwys het. Ek het een goeie dag ‘n Gestrande Engel met gekneusde vlerke langs die kuswandelpaadjie raakgeloop…

Een oggend hierdie week toe ek ons bed opmaak, sien ek toe ‘n ‘muskiet’ langs MaanMan se kussing. Gedagtig aan die vabondjies wat nag na nag hulle lewens verloor in ons kamer, wou ek hierdie ‘muskiet’ se pikante bekkie afneem. Die kamera kan beter sien as ek, en dit is toe wat ek deur die lens sien.

”n Gevalle Engel… Waar die groen miniatuur veertjie vandaan kom, kan ek nie eers raai nie. Dit was so klein, die agtergrond is ‘n fyngeweefde op-die-oog-af roomkleur duvet. Hier lyk dit soos wit en bruin strepe hekelwerk.

Advertisements