Sleutelwoorde

Julle weet mos – waar mense lank genoeg intiem saamwoon ontstaan daar allerhande gesegdetjies. En dan is net ‘n oogvang, of ‘n woord of twee nodig om jou te laat besef jou MaanMaat wil eintlik sê:

Kyk, Ouma – The length of the cat can be measured by the heat of the sun…

Nartjieskil is ‘n bejaarde dame.  Sy was tot onlangs effe mollig en as sy met sulke stywe bene wegstap om haar afkeuring te kenne te gee, dan swaai daar sulke lelle onder haar maag  wat dan die stywe wegstap net so effe belaglik van agter af laat lyk.  Maar moenie dat sy hoor nie…   sy hét immers ‘n plaat in die heup na ‘n onderonsie met ‘n kar jare gelede…

Haar doopnaam is Tandu-La. Tandu-La Hugo. Maar dit het alteveel na die Tangelo’s geklink wat ons as kinders nartjie-lemoene genoem het, en so het sy later bloot Nartjieskil geword.

Sy is streng op roetine, en duld nie afwyking nie. ‘n Fynproewer wat net Hill’s vir Senior katte eet, maar tog ook in haar prille jeug smaak vir ‘n beskermde miniatuur paddaboudjie had. Vir klein dogtertjies het sy geen ooghare nie, en ‘n vreemdeling se hand duld sy nie.

Ek sou gister nog hierdie kon skryf. Maar nou kan ek nie.

Want Nartjieskil is weg.

Advertisements