Meestal is ek maar taamlik sinies, maar ek onthou een keer wat ek lekker gevang is op 1 April. Ek het ‘n boodskap gekry: Please call Mr G Raffe. Ja, ja, ek weet dis ‘n oue, maar in die laat 70’s was dit nie, en het die Dieretuin skakelbord die foon neergegooi toe ek waarskynlik die hoeveelste sucker was vra vir Mr Raffe…

MaanMan is een jaar sleg gevang, toe die Beeld berig het van die drywende Pick & Pay wat met die Vaalrivier afvlot, kompleet met restaurant. Waar mens vars vis kry, soos in pas gevang…

Danksy Facebook se Timeline kon ek gaan kyk na my eie onsinnighed die afgelope paar jaar.

1 April 2010: Julle! Raai wat! Ons is so opgewonde. Eers was ek bitterlik angstig, want ek meen, ons het al ‘n kleinkind. Maar toe besef ons weer, noudat ons ouer en wyse is, het ons soveel meer geduld. Die beste deel is dat daar deesdae weggooidoeke is. En epidurale. En keisers. Ons sien so uit! My liewe man wou eers niks hoor dat ek die nuus bekend maak nie, maar ek kan nie ‘n sekonde langer stilbly nie!

(Konsternasie, die foon het dadelik begin lui met geskokte/simpatieke familie…)

1 April 2011: Groot nuus! Ons gaan vir ten minste ‘n jaar lank deur Europa toer! Sommer net lig reis. Nou nie heeltemal die rugsak/backpacker ding nie, maar ook nou nie super luuks nie. Maar verskoon my, ek het hordes goed om te reël!

(Hope mense het my geglo. How I wish!)

1 April 2012: Ons soek aftreeplek! Kleinmond word nou te groot. Enige voorstelle vir plekke waar geen selfoonopvangs of ADSL lyne is nie? Daar moet geen vorm van kommunikasie na buite wees nie! We’re going green! Hoef nie noodwendig naby die see te wees nie. Huis kan maar bietjie TLC kort…

Is jy al met ‘n lekker slappe gevang?

Advertisements