Soms wens ek ek het anoniem geskryf, want ek wil partymaal iets op Facebook skryf soos hierdie:

Perspektief is ‘n snaakse ding. As ek op my rug lê met my arms en bene in die lug, lyk my arms skraal en my bo-arms ferm. My bene skraal, goed gevorm en my knieë glad. Dan laat sak ek dit weer. Karma is nie die bitch nie, swaartekrag is…

Ek het pink-eyes gehad die afgelope dag of twee, en ek het so besmetlik gevoel, maar wil dit nie sê nie…

Op hierdie moment, 38 jaar gelede, was die pienk verjaarsdaghasie wat ek die vorige aand vir Stefan gebak het (terwyl ek 5-minte kontraksies gehad het) bitter ver van my gedagtes af… Ek was net dankbaar die kraamproses van 23 uur was verby, en ek het ‘n gesonde 3.54 kg baba wat twee ure oud is…

Nee, ek gaan nié skuldig voel oor mense se hondjies wat nie saam kan kom op vakansie nie. Die vorige een wat my jammer hart laat bly het, se pie-kolle het bly deurslaan op die mat, en ons moes die mat vervang. Duisende Rande later, weet die mense nie daarvan nie.

So is daar baie gedagtes wat ek soms graag anoniem wil skryf, maar nie kan nie…  Wat is daar wat jy vandag graag anoniem sou wou skryf? Blog dit bietjie! Ja, dit is ‘n uitdaging….

Son jy is eerste getag! Eintlik is almal getag, maar ek weet Son sal eerlik wees oor wat sy spesifiek vandag graag anoniem sou wou sê…

Advertisements