Elke mens is so uniek, en die beste sangers sing met hulle eie stem, en die beste skrywers skryf uit hulle eie hart.  Het jy al gedink, hoe klein is ‘n gesig regtig, en ‘n oog is maar ‘n oog, en ‘n neus ‘n neus en ‘n mond ‘n mond. Hoeveel permutasies kan daar nou eintlik wees? Selfs identiese tweelinge verskil net daardie klein bietjie.

Most people are other people.  Their thoughts are someone else’s opinions, their lives a mimicry, their passions a quotation.  Oscar Wilde, De Profundis, 1905

Hierdie stelling slaan my op my maag, want Oscar Wilde kon netsowel hierdie stelling vandag gemaak het (Na ‘n draai op Facebook). Mense praat so maklik agter ander aan, en sê wat hulle dink die ander wil hoor. Swaai jou mantel!

Eintlik moet ons ons uniekheid koester, dankbaar wees daar is niemand anders wat presies so lyk of so is soos onsself nie! Ek is ook boring. My vriende sê so. Maar. Ek LIKE boring. Ek kan net een glas wyn drink (vra my vriendin Janina, sy lag vir my), en ek is deesdae bang vir die stad. Veral om te bestuur.

Dan is ek nie te kort nie, nie te lank nie, net 5’4″. Nie te maer nie, nie te vet nie, soos krulkopkleinkind ewe bewonderend in die bad sê, Ouma, jy is so klein en maer… En jy het sulke snaakse plat boude… HUH?) Nie te mooi nie, nie te lelik dat kinders skrik nie. Nie te ryk nie, nie te arm nie, net sodat ons genoeg van alles het. Maar hard moet werk.

Nie te dom nie, maar nie te slim nie, ek moes baie hard leer om my paar papiere met rooi stamps op te kry.

Dan is ek sportief met lekker muscles, maar blink in geen sportsoort uit nie. Te lomp. Behalwe ek gooi ‘n mean dart. Is dit ‘n sport? En ek wen elke Scrabble game wat ek speel. Maar ek sukkel om Engels te praat.

My koordinasie is so swak dat die mannetjie vir my gelag het wat my getoets het vir my Scooter lisensie. By die RGN waar ek gewerk het, het ek die skoolgereedheids toets vir ko-ordinasie gedruip. Ons het IK- en aanlegtoetse opgestel en gestandaardiseer en die heel eerste gerekenariseerde toets in ons land het onder my keyboard lewe gekry. Maar ek het ‘n skoolgereedheids ko-ordinasietoets gedruip.

Dit klink na kontraste, maar dit maak van my ‘n gebalanseerde wese. Boring.

Daar is net een van jou. En een van my.  En ek het boonop iets snaaks wat ek in my beursie moet dra, en wat niemand van julle waarskynlik het nie.

My oog het ‘n serial nommer, en ek moet hierdie kaartjie altyd in my beursie dra. Wat is vir jou snaaks van jouself of van jou lyf? Wat is uniek?

Vertel bietjie. Of nog beter – WYS.

Advertisements